Agriculture
Noord-Kaap boer vooruit─── 14:31 Thu, 27 Sep 2012
Pieter Möller
Landbou in die Noord-Kaap word gekenmerk aan boerdery op groot uitgestrekte oppervlaktes. Daar is egter ’n paar boerdery wat veral uitstaan met die manier waarop hulle sukses behaal het in hierdie geharde wêreld.
Twee unieke en bekende boerderye in die provinsie is Wildeklawer, naby Barkly-Wes, en Wintershoek Safaris, ’n jagplaas en taksidermie naby Kimberley.
Die naam Wildeklawer is al byna sinoniem met uie plaaslik en internasionaal. Eienaar Louis de Kock sê hulle plant ook in grootmaat waatlemoene, aartappels en ander gewasse vir die plaaslike kettingwinkelbedryf.
“Tans is daar oorgenoeg uie vir die plaaslike mark, en is dit nie nodig om uie in te voer nie,” sê de Kock. Hy voeg egter by dat rooi-uie beperk is, en ’n klein hoeveelheid daarvan word ingevoer. In September en Oktober word soet-uie na Europa, veral na lande soos Nederland en Engeland uitgevoer, maar ook na lande soos Angola en Mosambiek in Afrika. De Kock sê ook Suid-Afrikaanse uie is gesog omdat dit so gesond is. Hier dink ’n mens veral aan die soet-uie wat ’n paar jaar gelede soveel bekendheid verwerf het, omdat dit juis so gekweek is om nie jou oë te laat traan nie!
“Die vooruitsigte is daar vir ’n baie goeie seisoen,” sê de Kock. Hy sê prysgewys, kan die verbruiker verwag dat pryse van uie in Desember kan begin styg en volgende jaar dalk meer. “Maar dit bly steeds uitstekende waarde vir geld, as gevolg van die oorvloed uie wat beskikbaar is en die ooraanbod wat tans bestaan.” Hy verwag pryse sal in die toekoms eerder normaliseer as wat dit na té hoë vlakke sal styg.
De Kock het vir ’n aantal jare die Griekwas-rugbyspan geborg en ook só sy handelsnaam verewig in die Suid-Afrikaanse landboubedryf asook by verbruikers.
By Wintershoek, sowat 60 kilometer buite Kimberley, boer Wian van der Linde met wild en maak hy voorsiening vir veral buitelandse jagters van lande soos die VSA en Europese lande. “Die boerdery is vir my baie goed. Ons het ’n groot professionele personeelkorps, wat soos ’n familie saamwerk en die wild- en verwerkingsaanlegte op die plaas in stand hou”.
Die professionele jagters, wat deel uitmaak van sy personeel, is baie professioneel en daar word selfs DVD’s gemaak van die hele jagtog. “Baie van die jagters maak dit ’n jaarlikse instelling om hier na ons toe te kom,” sê van der Linde.
Hy het ’n paar jaar gelede die plaaslike bevolking van Ritchie ingespan en opgelei en ’n taksidermie op die plaas begin. Die werkers is almal “kunstenaars”, volgens van der Linde. Opgestopte diere van so klein as meerkatte tot so groot as olifante, word in groot kratte verpak en oorsee verskeep. Van der Linde is ook bekend as ’n man wat gereeld diere “pyl” en na ander dele van Suid-Afrika en Namibië uitvoer.
Een van die mooiste, maar ook hartseer gesigte op Wintershoek, is die renoster wesies van ’n paar maande oud wat hier ’n tuiste gevind het. Hulle ma’s het almal omgekom as gevolg van die wrede renosterstropery en Van der Linde bied aan hulle ’n veilige hawe om gerehabiliteer te word.
