Agriculture
AfriForum verwelkom biodiversiteitsprojek─── 13:59 Tue, 11 Jun 2013
AfriForum sê hy verwelkom die biodiversiteitsvaardigheidsprojek van R300 miljoen wat deur die departement van omgewingsake van stapel gestuur is.
"AfriForum ondersteun die inisiatief om mense binne 'n groen ekonomiese konteks te ontwikkel om volhoubare ontwikkeling en bestuur van ons natuurlike hulpbronne te verseker. Ons wil die regering aanmoedig om soortgelyke geleenthede dwarsdeur die omgewingsektor te skep," sê Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake van AfriForum.
Die projek is gemik op die ontwikkeling van vaardighede en die skep van betrekkings in die biodiversiteitsektor en sal oor die volgende twee en 'n half jaar die plasing behels van 800 werklose jeugdiges in poste wat vaardighede vereis in die biodiversiteitsektor. Dit sluit in die openbare- en private sektor en nie-regeringsorganisasies.
Dié inisiatief sal fokus op opleiding, mentorskappe en indiensopleiding.
Met 'n toekenning van ongeveer R375 000 per student sal dit die geleentheid skep om jong professionele werkers vir die biodiversiteitsektor op te lei en sodoende die vaardigheidstekorte in die sektor te verklein, sê Kleynhans.
Die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika se fonds vir werkgeleenthede sal die projek befonds.
Altesaam 32 openbare, private- en nieregeringsorganisasies in die plaaslike biodiversiteitsektor het reeds 463 jong mense vir internskappe in werkservaringsprogramme opgeneem en die res sal later vandeesmaand begin werk, sê die departement.
'n Bestuurskomitee van verteenwoordigers van die deelnemende organisasies en regeringsdepartemente sal oor die projek toesig hou.
