On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Graanprodusent van die Jaar: al die finaliste

───   09:01 Thu, 08 Aug 2013

Die wagtyd  is verby en die name van die Graan SA finaliste vir die 2013 Graanprodusent van die jaar sowel as die name van die finaliste vir die 2013 Ontwikkelende Graanprodusent van die Jaar, is bekend gemaak.
 
Die finaliste vir die Graanprodusent van die jaar 2013 is CD du Toit van die plaas Lanquedoc naby Riversdal, Anthony Evans van die Rhys Evans-groep by Viljoenskroon, Kurt Thiele en familie van die Thiele-landgoed naby Paulpietersburg, en die pa-en-seun-span Dirk en Herman van Rensburg van Pauciflora Boerdery by Arlington.
 
Die finaliste vir die Ontwikkelende Graanprodusent van die Jaar is Maurice Mthandeki Boki van die plaas Horncroft tussen Cedarville en Taylorville, Thembalekhaya Fort Nkuhlu van die plaas Denemark in die Vrede-distrik en Thabang Tsephe, die eienaar van twee plase in die Matatiele distrik 

CD du Toit
 
CD het in 1980 deeltyds saam met sy ma begin boer, maar nadat hy sy diensplig en sy studies aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi het, het hy in 1988 voltyds tot die boerdery toegetree.
 
Saam met sy broer Erhardt verbou hulle op verskeie plase koring, gars, canola en lupien in 'n wisselboustelsel. Die sukses van hierdie onderneming wat deur CD en sy broer bedryf word, is hulle buitengewone kennis van grond en die toepassing van hierdie kennis vir die optimale benutting van die hulpbron. Hulle gemiddelde reënval is sowat 660 mm per jaar, maar dit kan soms lol en soos CD sê: "Ons kan nie reënval regmaak nie, maar ons kan wel sorg dat die grond reg is."
 
Anthony Evans 
Anthony Evans het in 1968 saam met sy pa, Rhys Evans, op die plaas Huntersvlei by Viljoenskroon begin boer nadat hy sy studies aan onder andere, Rhodes, Oxford, en Harvard voltooi het.
 
Dit was gou vir hulle duidelik dat hoë opbrengste meer belangrik was as groot oppervlaktes, en dit het gelei tot die onttrekking van lae potensiaal gronde en die aanplanting van weidings vir inskakeling van 'n beesfaktor as integrale deel van die saaiboerdery. Arno Cronjé, oofbestuurder van die Evans-groep, het in 1991 by die boerdery aangesluit terwyl Anthony se seun David (die vierde generasie) intussen ook by die boerdery ingeskakel het.
 
Bewerkingspraktyke is baie gewas- en grondspesifiek en bly een van hul grootste uitdagings. Die diverse aard van die grondtipes, asook die wisselboustelsel, het tot gevolg dat verskillende bewerkingspraktyke toegepas word. Presisieboerdery met alles wat daarmee saamgaan, vorm reeds sedert 2003 deel van hul praktyke.
 
Kurt Thiele en familie 
 
Michael, Carl, Walter, Kurt en Mark Thiele van die plaas Schikhoek in die Paulpietersburg omgewing is gewis 'n gedugte span.
 
Met Duitse presisie word elke komponent van hul gediversifiseerde boerdery wat graanverbouing, varke, beeste, skape, bosbou en 'n wildskomponent insluit, bestuur tot suksesvolle winssentrums.
 
Hoewel Kurt en sy broer Walter die pas aangee en hulle almal gesamentlik besluite neem, het elkeen sy bepaalde verantwoordelikhede binne die boerdery en moet elkeen dus rekenskap kan gee van alles wat gebeur.
 
Binne die tipografies uitdagende omgewing slaag hulle uitstekend daarin om die onderskeie bedryfstakke te integreer.
 
Die afvalbestuur van die intensiewe veefaktor is indrukwekkend. Afval (vaste- en vloeibare stowwe) vanaf die varke word na 'n aanleg herlei waar die vloeibare stowwe in 'n dam gestort word. Terselfdertyd word die vaste materiaal "gewas" waarna die vloeistof ook na die opgaardam gaan vanwaar hulle besproei. Sodoende word besoedeling verhoed. Die vaste stowwe word dan na hierdie eenhede geneem waar die rou varkmis gestort word sodat erdwurms hul werk kan doen en sodra die erdwurms hul taak voltooi het word dit na die komposhope geneem vir verdere vermenging.
 
Dirk en Herman van Rensburg 
 
Dirk en Herman van Rensburg van Pauciflora-boerdery by Arlington is 'n gedugte pa-en-seun-span.
 
Dirk wat voorheen vir die departement van landbou en tegniese dienste werksaam was, het gedurende 1970 grond gehuur en deeltyds begin boer.
 
Met die aankoop van die plaas Port by Arlington in 1976 het Dirk voltyds begin boer en sedertdien nog nooit weer teruggekyk nie.
 
Herman op sy beurt het na matriek op 'n plaas in Iowa ( Amerika) gaan werk, daarna sy studies voltooi en aan die einde van 2003 voltyds tot die boerdery toegetree.
 
Dirk se betrokkenheid binne die gemeenskap, georganiseerde landbou (Graan SA en Vrystaat Landbou) en vele ander terreine strek oor baie jare en Herman het al in sy voetspore begin volg en dien sedert 2010 in Vrystaat Landbou se Jongboerkomitee.
 
Hul gronde verleen aan hulle die winsgewende verbouing van mielies, koring en sonneblom binne 'n wisselbou- en oorlêstelsel.
 
Hidrologiese beplanning en die regstelling van die PH en ander elemente is egter hul wagwoord vir sukses en hulle glo daaraan dat optimum produksie en volhoubaarheid nie bereik kan word alvorens hierdie aspekte nie in plek is nie.
 
Herman het met sy toetrede tot die boerdery die staalwerke-afdeling omskep in 'n volwaardige fabriek waar hulle nie net in hul eie behoeftes voorsien nie, maar ook werktuie vervaardig vir ander landboubesighede.
 
Ook hierdie afdeling van Pauciflora-boerdery dra by tot werkverskaffing in die gemeenskap. Binne hul totale boerdery het hulle ook 'n werkerskomitee wat gereeld vergader en volgens Herman is hierdie komitee die oë en ore van die boerdery.
 
Elke werksweek word saam met die werkers met skriflesing en gebed begin en afgesien van hul jaarlikse poging om minderbevoorregte swart gesinne in die gemeenskap se nood te verlig, kry die twee werker-kinders wat die best in matriek presteer kontantpryse. Daar is verlede jaar ook drie  rekenaars aan die laerskool geskenk.
 
Maurice Mthandeki Boki 
 
Maurice is op die 20ste April 1941 in Matatiele gebore. Hy was ''n leerling aan die St. Columbus-laerskool en die Mariezell-hoërskool in Matatiele. Hy het die skool in standerd 8 verlaat en is na St. Anthony's-sendingstasie waar hy sy matrieksertifikaat behaal het.
 
Hy het daarna na Johannesburg verhuis en was vir drie jaar by die munisipaliteit van Germiston werksaam. Nadat hy die munisipaliteit verlaat het, het hy by Twins Farmaseutiese Maatskappy (Adcock Ingrams) begin werk waar hy vir 12 jaar in diens was. Hy het die farmaseutiese maatskappy in 1977 verlaat en 'n algemene handelaarsbesigheid in Matatiele gekoop wat steeds in bedryf is.
 
In 1995 het hy die plaas Horncroft tussen Cedarville en Taylorville met die hulp van die Landbank gekoop en hy woon en boer sedertdien daar.
 
Hy het met landbou groot geword en het 'n passie daarvoor. Hy het ook sedert 1995 sy boerdery sonder enige bystand van enige organisasie bedryf.
 
Hy is in 1977 met Kholiswa getroud en hulle het vier kinders. Hy het kursusse in gewasproduksie, beestelery, boerderyrekordhouding en boerderysakebestuur by Cedara bygewoon.
 
 
Thembalekhaya Fort Nkuhlu 
 
Hierdie boer glo in diversiteit. Hy produseer mielies, sojabone, bedryf 'n varkboerdery, boer met hoenders en het ook 'n substansiële lewendehawe-boerdery op sy plaas Denemark in die Vrede-distrik.
 
Hy het in die Oos-Kaap groot geword waar sy oupa, 'n uitbreidingsoffisier in die Cala-distrik, vir hom die basiese beginsels van gewasproduksie geleer het.
 
Hy het sy hoërskoolopleiding aan die junior hoërskool Hgangelizwe voltooi. Daarna het hy 'n kortkursus van 'n jaar in bemarkingsbestuur aan Boston City Campus voltooi, gevolg deur 'n kantooradministrasiekursus aan Damelin Kollege en 'n boekhoudingskursus aan Varsity Kollege.
 
Hy glo dat leer 'n voortdurende proses is in die boerdery en iets wat nooit tot 'n einde kom nie.
 
Sy belangstelling in boerdery het begin toe sy pa die plaas in 1999 gekoop het.
 
Fort  sou graag sy plaas in 'n rigting wil stuur waar hy 'n betroubare mark op 'n deurlopende basis vir al die plaasprodukte het en 'n platform kan skep om die nuwe generasie boere sowel as landboustudente te leer maar ook terselfdertyd aan hulle die geleentheid gee om dit wat hulle geleer het, toe te pas.
 
 
Thabang Tsephe
 
Thabang het in Matatiele groot geword. Hy het aan die junior skool Mehloloaleng  skool gegaan waar hy standerd 5 behaal het. Hy het daarna vir 'n kort tydperk op 'n plaas gewerk en was daarna vir  tien jaar op myne werksaam.
 
Hy het in 1986 teruggekeer huis toe en het 'n algemene handelaarswinkel bedryf totdat hy in 1999 begin boer het.
 
Hy is met Matau getroud en hulle het twee seuns wat hom op die plase behulpsaam is.
 
Hy is op albei plase werksaam waar hy mielies, hawer en groenvoer aanplant. Bykomend tot die gewasproduksie, bedryf hy ook 'n melkery en het hy vleisbeeste en skape vir diversiteit.

More from News

You May be Interested in

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.