On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Graan SA sê hy werk hard vir nuwe koringbedeling

───   14:12 Mon, 09 Sep 2013

Graan SA se uitvoerende hoofbestuurder, Jannie de Villiers, sê dié organisasie is optimisties dat die afgelope debat oor die liggingsdifferensiaal vir koring nie volgende jaar herhaal sal word nie.
 
Hy sê voordat die gemiddelde verhoging van 24,31% deur die JSE aangekondig is (33% in die Wes-Kaap), het Graan SA baie tyd bestee aan gesprekke met produsente en aan onderhandelinge met die JSE oor die liggingsdifferensiaal en die voortbestaan daarvan.
 
“Graan SA besef dat die afkondiging van 'n differensiaal vir die 2013-’14 seisoen onafwendbaar was, aangesien daar alreeds kontrakte op die beurs verhandel het. Ons onderhandelings met die JSE was egter nie net ten opsigte van die vlak van die differensiaal nie, maar daar is veral gefokus op 'n totaal nuwe bedeling vir koring in 2014-’15."
 
Hy sê Graan SA is in die proses om sy voorstelle vir ’n nuwe bedeling vir die koringbedryf op skrif te sit.
 
“Dit is die resultaat van baie jare se frustrasie en debatvoering oor die saak.”
 
“Ons is baie optimisties dat hierdie jaar se debat oor die differensiaal nie weer volgende jaar herhaal gaan word nie. Graan SA is ten gunste daarvan dat die vrye mark uitgebrei moet word en dat die differensiaal afgeskaf moet word. Die mark het 'n vlak van ontwikkeling bereik waar rolspelers mekaar kan vind ten opsigte van vervoerkoste.”
 
Hy sê Graan SA het 'n beroep gedoen op die rolspelers in die bedryf om met nuwe en vars inisiatiewe vorendag te kom om die vrye mark verder uit te brei sodat die deelnemers mekaar kan vind sonder enige inmenging van 'n vasgestelde differensiaal.
 
“Die feit dat die differensiaal so 'n belangrike deel vorm van die uiteindelike prys wat 'n produsent vir sy koring kry, sal altyd 'n punt van dispuut bly solank as wat dit deur 'n derde party bepaal word. Ongeag die onafhanklikheid van die JSE, is dit altyd beter as kopers en verkopers direk met mekaar kan onderhandel.”
 
Hy sê die verhoging wat deur die JSE aangekondig is, gaan negatief inwerk op die winsgewendheid en die produksie van koring.
 
“Dr. Rob Davies (minister van handel en nywerheid) het onlangs die koringbedryf juis as 'n bedryf in nood geklassifiseer.
“Die verwydering van die differensiaal is een van Graan SA se strategiese doelwitte en ons sal voortgaan om 'n vrye mark te bevorder wat vry is van enige inmenging", sê De Villiers.

More from News

You May be Interested in

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.