On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

National

MRK verwerp aanklag teen staatsaanklaer Gerrie Nel

───   06:36 Wed, 16 Apr 2014

Pretoria - Die Menseregtekommissie het 'n klag teen staatsaanklaer Gerrie Nel in die Oscar Pistorius-moordverhoor verwerp.

“Die MRK het bevind dat die hof deur die loop van die hofverrigtinge sy outoriteit behoorlik uitgeoefen het,” het die kommissie Dinsdag in 'n verklaring gesê. “Die getuie is verteenwoordig en sy verhaalreg was beskikbaar deur die hof om stappe te doen indien dit behoorlik is.”

Die klaer, Jan Landman, het die kommissie versoek om ondersoek in te stel na die manier waarop Nel sy kruisondervraging van die moordbeskuldigde Oscar Pistorius hanteer het.

Landman, 'n voormalige kommissaris vir die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Linguistiese Gemeenskappe, het die MRK versoek om te bepaal of dit toelaatbaar is dat Nel na Pistorius as 'n leuenaar verwys tydens sy kruisondervraging.

Landman het gesê na sy mening is Nel besig om Pistorius se reg te skend tot 'n regverdige verhoor. Hy het aangevoer Nel het Pistorius se reg om as onskuldig geag te word, sy reg tot vryheid van uitdrukking, en om te verseker dat sy menswaardigheid beskerm en gerespekteer word, geskend.

Die kommissie het gesê sy magte word in hierdie sake bepaal deur 'n statuut wat hom nie toelaat om sake, wat voor geregtelike tribunale en forums, insluitend howe aangehoor word, te ondersoek nie.

“Die MRK is tevrede dat voldoende beskerming in plek gestel is op die vlak van die hofproses en spesifiek vir die getuie en het besluit om nie hierdie saak verder te voer nie,” het die kommissie in die verklaring gesê.

Die kommissie doen 'n beroep op die publiek om die hof se outoriteit en die regte van die kommentators te respekteer.

“Die publiek word ook versoek om onnodige sirkulasie van grafiese materiaal, wat in die hof aangebied word, te beperk, uit respek vir die oorledene en haar familie.”

Pistorius word van moord aangekla nadat hy Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013 deur 'n geslote toiletdeur in sy huis in Pretoria-Oos doodgeskiet het. Hy voer aan hy het haar vir 'n inbreker aangesien. Hy staar ook aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet in die gesig. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte.
 
Sapa 

More from National

You May be Interested in

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.