On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Local News

Kovsie Alumni reageer skerp op viserektor se uitlatings

───   15:12 Wed, 16 Apr 2014

Christal-Lize Muller
Bloemfontein - Die Kovsie-Alumni het skerp gereageer op uitlatings wat gisteraand op die Universiteit van die Vrystaat se konvokasie-vergadering in Bloemfontein oor sy rol by die universiteit gemaak is.
 
Kovsie-Alumni se voorsitter, Pieter du Toit, sê die UV se vise-rektor, prof. Nicky Morgan, maak ‘n groot fout as hy dink die alumni speel ‘n geringe rol by die universiteit.

Dit kom nadat Morgan gesinspeel het daarop dat die alumni nie ‘n groot bydrae tot die universiteit lewer nie en dat hulle moet betaal as hulle ‘n invloed wil hê. Du Toit sê die Kovsie-Alumnitrust is ‘n regsentiteit, wat ook studiebeurse aan arm en voorheen benadeelde studente verskaf, terwyl die universiteit slegs ‘n begunstigde van die trust is.

Volgens hom onderskat Morgan lede van die alumni se invloed regoor die wêreld. Dit is juis hulle wat ‘n invloedryke rol in die korporatiewe wêreld speel waar inkomste na die universiteit gekanaliseer word. Die werwing van voornemende studente word ook deur uitlatings soos dié geraak. “Om die alumni nou vies te maak gaan net beteken dat minder studente na die universiteit gaan kom. Dit gaan beteken dat die UV net minder subsidies van die regering gaan kry,” sê Du Toit.

Talle ander dwingende kwessies is gisteraand op dié hittige vergadering deur ontevrede lede van die konvokasie gelug.  Die president van die konvokasie, Johan Grobbelaar, sê verskeie voorstelle is deur lede op die vergadering gemaak, wat nou deur hom (Grobbelaar) opgevolg en aan die UV-raad voorgelê sal word.

Een daarvan is die universiteit se gebrek om lede van die konvokasie op die hoogte van sake te hou oor die “werklike gebeure” by die universiteit.

Oud-inwoners van die J.B.M. Hertzog-koshuis het ook hul misnoeë uitgespreek met die sogenaamde vernuwingsproses by dié koshuis, wat die naamsverandering van die koshuis asook die verwydering van koshuismemorabilia insluit. Oud-inwoners van die koshuis het versoek dat die memorabilia spoedig aan die eienaars daarvan teruggee word. Du Toit sê dit is ook teleurstellend dat die studentedekaan, Rudi Buys, hom nie wou uitlaat oor die JBM-kwessie nie en voorgestel het dat die konvokasie via die raad inligting van die rektoraat moet aanvra.

Volgens Grobbelaar is min mosies op die vergadering ingedien en aanvaar, maar ‘n mosie dat ‘n oudit oor die UV se personeelaanstellings die afgelope vyf jaar gedoen word, is wel aanvaar. Dit is om vas te stel of die korrekte prosedure gevolg is met aanstellings by die universiteit en of daar ongerymdhede was. Hy sê is daar ook voorgestel dat die konvokasie ‘n meer interaktiewe rol moet speel met ‘n behoorlike grondwet en kernkomitee sodat lede van die konvokasie via die kernkomitee probleme kan voorlê wat dan na die raad verwys kan word. Die konvokasie moet ook meer gereeld vergader en nie slegs een keer elke vyf jaar nie.

“Die groot probleem is dat werklike kanale geskep moet word om probleme en frustrasies deur te gee aan die raad. Die konvokasie is die pad wat gevolg moet word waarby personeel en oud-studente, asook die alumni, hul frustrasie kan lug en dan kan dit aan die raad deurgegee word,” sê Grobbelaar.

Podcasts

More from Local News

You May be Interested in

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.