On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Africa News

Ebola-sterftes styg steeds

───   08:07 Wed, 16 Jul 2014

Ebola-sterftes styg steeds | News Article
Sierra Leone - Die dodetal in Wes-Afrika se Ebola-uitbreking het tot 603 gestyg, het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) Dinsdag gesê.

Die jongste sterftes, wat tussen 8 en 12 Julie aangemeld is, is hoofsaaklik in Sierra Leone en Liberië aangemeld. Die WGO verskaf gereeld die jongste inligting oor die uitbreking, die eerste van sy soort in Wes-Afrika en die dodelikste sedert Ebola in die 1970’s ontdek is.

“Daar is steeds 'n hoë mate van oordrag wat in gemeenskappe plaasvind,” het Daniel Epstein, woordvoerder vir die WGO, aan verslaggewers gesê. “Altesaam 85 nuwe gevalle is tydens dié periode aangemeld.”

Die WGO het bygevoeg daar is tans 964 gevalle waar Ebola in 'n laboratorium bevestig is, of vermoed word of waarskynlik is. Alhoewel Guinee slegs ses jongste gevalle aangemeld het, bly dit die land wat die swaarste getref word. Altesaam 304 mense is sedert Januarie dood en daar is 406 gevalle van Ebola aangemeld.

Sierra Leone het tussen 8 en 12 Julie altesaam 49 nuwe gevalle aangemeld en staan nou op 386. Altesaam 194 mense is reeds dood.

Liberië het 30 nuwe gevalle aangemeld en staan nou op 172. Die dodetal in dié land staan op 105.

Ebola is in 90% van die gevalle dodelik. Slagoffers kan binne dae simptome toon wat erge koors, spierpyn, vomering en diarree insluit. In sommige gevalle sluit die simptome ook orgaanversaking en onbeheersde bloeding in.
 
Ebola word vermoedelik deur diere wat vir hul vleis gejag word, hoofsaaklik vlermuise, versprei. Mense versprei dit deur liggaamsvloeistowwe soos sweet, wat beteken dat jy deur aanraking siek kan word.
 
Sapa 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.