Africa News
Vyf al dood in Mosambiekse vloede─── 16:54 Fri, 19 Dec 2014
Maputo - Vyf mense is in vloede in dié Mosambiekse hoofstad dood na swaar reën die afgelope week.
Mosambiekse owerhede sê vyf huise het weggespoel in vloedwater. Die stad se burgemeester, David Simango, het die gebiede wat erg geraak is besoek. Volgens die stad se raadslid vir gesondheid en maatskaplike welsyn, Nurbai Calu, sal mense in die gebiede waar vloede kan voorkom, verskuif word.
Die Mosambiekse nuusagentskap, AIM, berig Calu sê daar sal ook na gesinne wat hul huise in die vloede verloor het omgesien word. Volgens Calu kan die totale omvang van die skade nog nie bepaal word nie.
In die stad Matola naby Maputo is 300 mense haweloos gelaat nadat 19 huise ineengestort het en 370 huise oorstroom het. Altesaam 55 mense is verlede jaar in vloede in die noordelike en sentrale deel van die land dood.
Sowat 170-duisend mense moes hervestig word.
Sapa