On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

National

Valke skors nog 4 oor uitlewering van Zimbabwiërs

───   14:18 Tue, 03 Mar 2015

Valke skors nog 4 oor uitlewering van Zimbabwiërs | News Article

Die Valke het aangekondig dat nog vier van sy lede geskors is met betrekking tot die beweerde onwettige uitlewering van vier Zimbabwiërs.

“Dit is waar dat hulle kennisgewings van skorsing ontvang het en dus die reg het om vertoë te rig,” het brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, gesê. Die vier lede wat geskors is, is konst. Paul Radebe, kapt. Sipho Nkosi, ao. Jacob Makoe en kol. Leslie Maluleke.

Die vier het op 20 en 23 Februarie hul skorsingskennisgewings ontvang. Mulaudzi het gesê dit is belangrik dat die regte prosedure gevolg word gegewe die ernstige aard van die bewerings. “Dit is ’n emosionele saak en ons is bewus daarvan, maar as mense meen dit is ’n kriminele saak, is dit baie belangrik dat die saak op 'n gepaste wyse hanteer word.”

Mulaudzi het ontken dat daar 'n heksejag aan die gang is. “Hierdie saak is van ’n ernstige aard en hou verband met beweerde menseregteskendings. Die lede teen wie die bewerings gemaak word, sal moet bewys dit is nie die geval nie.”

Die hooggeregshof in Pretoria het voorverlede week beslis dat genl.maj. Shadrack Sibiya, hoof van die Valke in Gauteng, se skorsing ongrondwetlik is. Die hof het verder gelas dat genl.maj. Elias Dlamini se aanstelling om in Sibiya se plek waar te neem, ook ongeldig is.

Sibiya het genl.maj. Berning Ntlemeza, waarnemende hoof van die Valke, in hofdokumente daarvan beskuldig dat hy wraak wil neem namens sy “bondgenoot” Richard Mdluli, voormalige hoof van misdaadintelligensie.

Ntlemeza het Sibiya geskors vir sy beweerde betrokkenheid by die onwettige uitlewering van Zimbabwiërs in 2010.

In Januarie vanjaar het die hooggeregshof in Pretoria beslis dat Nkosinathi Nhleko, minister van polisie, se besluit om Anwa Dramat, hoof van die Valke, te skors, onwettig en ongeldig was. Nhleko se aansoek om te appelleer teen die beslissing is van die hand gewys. Dramat is ook geskors vir sy beweerde betrokkenheid by die uitlewering van Zimbabwiërs.

Maroela Media

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.