On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Human Interest

Klein-Kariba maak sy deure weer oop

───   14:29 Fri, 29 Aug 2014

Klein-Kariba maak sy deure weer oop | News Article

Bela-Bela - Die ATKV Klein-Kariba-vakansieoord in Bela-Bela, Limpopo, is ná ses maande en miljoene rande se opknappings- en herstelwerk weer gereed om sy deure vir besoekers oop te maak.

Die oord moes in Maart sluit nadat twee vloede kort na mekaar die oord getref het. Twee bejaardes is ook tydens die vloede dood.

“Ons is baie opgewonde om te kan sê dat gaste weer van Maandag af by die oord kan kom ontspan,” het Riaan Maritz, die oord se bemarkingsbestuurder, Vrydag aan Maroela Media gesê. “Ons het baie skade gehad, maar kan nou met 'n nuwe, meer moderne en veilige oord spog. Daar is veral gefokus op opknappingswerk aan die rivier om vloede beter te kan hanteer.”

Maritz het gesê die rivier is ses meter breër gemaak en die walle en draaipunte is versterk. Die brûe wat tydens die vloede weggespoel het, is heeltemal oorgebou en kan ook nou 'n groter volume water hanteer.

Die oord spog ook met 'n splinternuwe winkel wat vergroot en meer modern is. Die warmwater-onderdakswembad is ook oorgedoen en lyk nou heeltemal anders. Die karavaanstaanplekke het skadunette en direkte rioolkoppeling bygekry.

“Daar is regtig 'n aangename gevoel in die oord, met baie meer ruimte. Alhoewel die oord 'n gedaanteverwisseling ondergaan het, behou dit steeds sy karakter waarvoor almal lief geword het,” het Maritz bygevoeg.

Volgens Maritz is personeel by die oord oorweldig deur die ondersteuning wat hulle oor die afgelope tyd van die publiek ontvang het. “Ons is omtrent weekliks deur instansies, jeuggroepe, kerkgroepe en selfs die Voortrekkers genader om te hoor of hulle ons kan help opruim. Mense wou ook weekliks weet wat hulle kan doen om te help en wanneer hulle weer kan kom kamp. Vir die publiek is Klein-Kariba vir hulle soos hul eie plekkie.”

Hy het gesê besprekings vir September is reeds volop, maar daar is nog steeds plek beskikbaar.

Maroela Media het vroeër berig oor die tragedie wat op 7 Maart by die oord plaasgevind het. 'n Bejaarde egpaar, Elizabeth en Eric Sparrow, is dood toe hulle tydens die eerste vloed deur vloedwater meegesleur is. Eric se liggaam is op 8 Maart gevind, maar Elizabeth se liggaam is eers op 16 Maart deur die polisie se soek-en reddingseenheid in die Klein-Kariba-dam opgespoor. Die oord het ná die eerste vloed sy deure vir die publiek gesluit.
 
MaroelaMedia

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.