On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Local News

Video: Helikopter tref kragkabel by matriekafskeid

───   06:23 Thu, 21 Aug 2014

Video: Helikopter tref kragkabel by matriekafskeid | News Article

Brits - 'n Spesiale dag vir leerlinge van Hoërskool Wagpos in Brits, Noordwes, het Vrydag byna in 'n tragedie ontaard toe 'n helikopter, wat 'n paartjie vir hul matriekafskeid vervoer het, se lemme 'n kragkabel getref het.

“Chané is my enigste dogter en ons wou iets baie spesiaal vir haar matriekafskeid reël, min wetend dat só iets sou gebeur,” het Lindi van Rooyen, die matrikulant se ma, Woensdag aan Maroela Media gesê. Chané en haar kêrel, Albert Neethling (18), was tydens die voorval in die helikopter.

Lindi was deel van die komitee wat die matriekafskeid gereël het en sy het staan en kyk toe die helikopter kom land. “Chané en Albert het by die Brits-vliegveld op die helikopter geklim. Ek het die vlug deur 'n lugvaartagentskap bespreek en hulle het die vlieënier gereël,” het sy verduidelik. Fatherland-landgoed, waar die matriekafskeid plaasgevind het, is ongeveer 5 km van die vliegveld af geleë.

“Ek was nogal bekommerd toe ek sien die vlieënier kom te naby aan die kragdraad en ek wou vir hulle skree, maar die helikopter het te veel lawaai gemaak. My dogter sê sy het ook die drade sien nader kom, maar die vlieënier het dit glo nie raakgesien nie, omdat hy op die grond bly kyk het.”

Lindi sê alles het daarna vinnig gebeur, en dat dit nou nog onwerklik voel. “Daar was 'n groot slag, waarna die helikopter gekantel en vinnig daarna op die grond beland het. So baie dinge kon verkeerd geloop het. Die helikopter se lemme het die grond rakelings gemis, anders sou my kind en ander omstanders dalk baie seergekry of selfs gesterf het,” het sy gesê.

Die kragkabels het op die grond geval en die gras het begin brand. Toeskouers moes vinnig hul motors skuif.

Ronnie, Chané se pa wat ook 'n ingenieur is, het dadelik Eskom geskakel om seker te maak dat die kragtoevoer van die substasie afgeskakel word en niemand deur die stukkende kabel geskok kan word nie. Die landgoed en boere uit die omgewing het vinnig ná die voorval kragopwekkers na die saal aangery sodat die matriekafskeid kon voortgaan. Eskom het Saterdag die kragtoevoer herstel.

Niemand is tydens die voorval beseer nie. Die twee tieners was net ontsteld oor die voorval. “Ons het vir hulle soet kola-koeldrank gegee en hulle het daarna die aand verder geniet. Hulle het die beste gemaak van 'n slegte saak,” het Lindi gesê

Op 'n vraag op Chané weer in 'n helikopter sal klim, antwoord Lindi skertsend: “Nie vinnig nie! Maar wie weet, dalk weer oor 'n jaar. Sy het skaam erken dat sy kragwoorde gebruik het toe sy die slag hoor.”

Andrew Vorster het 'n video van die voorval geneem en Dinsdag op YouTube gelaai. “As ek na die video kyk kry ek koue rillings. Ek kry die vlieënier jammer. Ek weet nie of dit uit ondervinding, instink of geluk was nie, maar dit is die Here se genade dat dit nie in 'n tragedie ontaard het nie. Ons kan nou daaroor lag, maar soveel dinge kon verkeerd geloop het.”

Die Burgerlugvaartowerheid ondersoek die voorval en het reeds met Lindi en Ronnie in verbinding getree.
 
Maroela Media 
 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.