Local News
Vrede-plaasaanval: Dit gaan effens beter met die Kritzingers─── CHRISTAL-LIZE MULLER 14:30 Mon, 03 Aug 2015
Vrede - Dit gaan onder omstandighede beter met die bejaarde egpaar wat verlede maand op hul plaas by Vrede in die Vrystaat aangeval en geskiet is.
Woordvoerder vir die familie, Ruan Combrink, sê Johannes Kritzinger is vandag van die Netcare-Unie-hospitaal in Alberton, waar hy en sy vrou Rita sedert die voorval behandel word, na 'n rehabilitasiesentrum op Frankfort oorgeplaas.
Volgens Combrink is Rita steeds in die hospitaal in Alberton se intensiewesorgeenheid.
Johannes is vier keer in die kop, bors en buik geskiet, terwyl Rita drie keer geskiet is.
Intussen is een van die Kritzingers se vermeende aanvallers, Thabo Motloung, vandag in die rondgaande hof op Vrede borgtog geweier. Motloung en sy medebeskuldigde, Paul Zulu staan tereg op onder meer ‘n aanklag van poging tot moord en huisbraak.
Zulu, wat kort na die aanval in hegtenis geneem is, het vroeër sy aansoek om borgtog laat vaar.
Combrink wat saam met lede van die gemeenskap die hofverrigtinge bygewoon het sê die hof het hom vandag sterk uitgespreek oor die Suid-Afrikaanse regstelsel wat belaglik in die oë van die wêreld sal lyk as Motloung op borgtog vrygelaat word. Die erns van die aanklag waarop hy tereg staan is beklemtoon.
Motloung en Zulu is weer op 25 Augustus in die hof.
Christal-Lize Muller/OFM-nuus