On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Special Reports

FEATURE: Hoekom rugbyspelers so sexy is...

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 10:44 Mon, 05 Oct 2015

FEATURE: Hoekom rugbyspelers so sexy is... | News Article

Al is sommige spanne nie altyd op die wenpad nie, is die fors en gespierde spelers darem daar vir die skoner geslag en baie ander om te geniet.

Die wêreldbeker-rugbytoernooi is in volle gang in Engeland en baie Suid-Afrikaners staan bankvas agter die Bokke. En... al is sommige spanne nie altyd op die wenpad nie, is die fors en gespierde spelers darem daar vir die skoner geslag en baie ander om te geniet. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het gaan uitvind waarom vroue rugby kyk en of die spiertiere op die veld iets daarmee te doen het.

OFM-nuus het luisteraars in ‘n meningsopname gevra wie die aantreklikste rugbyspeler in die toernooi is en natuurlik was die top-vyf almal Springbok-spelers.

Die losskakel, Patrick Lambie, is die eerste keuse. Kort op sy hakke is die senter, Damian de Allende, en die ouer en meer ervare Springbok-slot, Victor Matfield. Die blitsvinnige heelagter, Willie le Roux, en Bok-kaptein, Jean de Villiers, maak ook die bene lam.  De Allende pronk ook onder die Britse radiostasie, Heart, en die webtuiste Closeronline se mees aantreklike rugbyspelers.  

 

 

#AccordingToYou: Who is the best-looking/sexiest Springbok in the current World Cup squad? Photo: The Independent

Posted by OFM News on Tuesday, 8 September 2015

1. Pat Lambie

2. Damian de Allende

3. Victor Matfield

4. Willie le Roux

5. Jean de Villiers

 

‘n Derdejaarstudent in maatskaplike werk aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), Anré la Grange, sê sy is van kleins af mal oor rugby. Die sexy spelers is ‘n pluspunt. Sy sê Le Roux kry ‘n regmerkie want hy het die X-faktor en is sag op die oog.

Sharon Bell van Bloemfontein sê sy kyk nie graag rugby nie, maar tydens die wêreldbekertoernooi geniet sy dit om na die breëbors-adonisse te kyk.

‘n Voormalige Mev. SA en Mev. Wêreldwyd, Annette Kasselman van Bloemfontein, sê sy is ‘n kranige rugbyondersteuner. Sy hou van die spel en ken dit. Die spelers se physique is ook vir haar ‘n aantrekkingskrag. Die All Blacks se kaptein, Richie McCaw, is haar gunsteling.

Nog ‘n Bloemfonteiner, Lizelle Olivier, sê as dit by voorkoms kom, staan Suid-Afrikaanse mans geensins terug vir spelers van ander lande nie.

‘n Sielkundige en seksioloog van Bloemfontein, Marianne Viljoen, sê vroue wat sportmanne en veral rugbyspelers aantreklik en onweerstaanbaar vind, hou van dié tipe mans omdat vroue al donkiejare lank wil hê mans moet aan hul behoefte aan respek, bewondering en mans se vermoë om vroue veilig te laat voel, voldoen.

Volgens Viljoen voldoen rugbyspelers met ‘n sterk en gespierde liggaamsbou, wat kragtig en flink op hul voete is, aan dié eienskappe wat vroue al duisende jare gelede in ‘n man gesoek het. Sy sê vroue se hedendaagse behoeftes is steeds dieselfde as destyds - dit het net ‘n ander vorm aangeneem.

Viljoen sê mans wat nie sportief is nie, hoef egter nie terug te staan vir sportmanne nie. Hulle kan ook respek afdwing deur hul gedrag en die manier hoe hulle vroue hanteer.

Viljoen sê geld is ook ‘n trekpleister vir sommige vroue, maar dit is eerder ‘n man se sukses wat bewondering kweek. Sy het nie ‘n kitsoplossing vir spelers om al die aandag van vroue-aanhangers te verwerk nie. Sy meen dit plaas nog meer spanning op spelers, omdat hulle nie ‘n voet verkeerd kan sit nie, of dit beland in die media. Maar, aantreklik of nié, alle hoop is steeds op die Bokke gevestig om Suid-Afrika se naam vanjaar hoog te hou.

Christal-Lize Muller/OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.