On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

National

Derby-Lewis glo nie betrokke by Christoff Becker-afpersing

───   06:23 Fri, 25 Jul 2014

Derby-Lewis glo nie betrokke by Christoff Becker-afpersing | News Article
Pretoria - Die veroordeelde Clive Derby-Lewis het niks te doen met 'n afpersingsaak in die gevangenis nie, het sy prokureur Donderdag gesê.

“Ek dink die ondersoekbeampte is tevrede dat Clive niks daarmee te doen gehad het nie,” het Marius Coertze gesê.

Die saak handel oor 'n gevangene en 'n video op 'n hardeskyf van een van die sogenaamde Waterkloof-4, Christoff Becker. Die gevangene het glo Becker se ma, Mariette, afgepers met beeldmateriaal van haar seun wat hom in die moeilikheid sou bring by die departement van korrektiewe dienste.

“Die beskuldigde gevangene het glo gesê hy is nie alleen skuldig nie, en het aangedui hy het die hardeskyf by Clive gekry,” het Coertze gesê. “Hy probeer Clive hierby betrek.”

Volgens Coertze sal Derby-Lewis moontlik as 'n staatsgetuie geroep word in die uitbuitingsaak teen die gevangene, wie se naam nie bekend gemaak mag word nie.

Die Sowetan-koerant het berig dat die gevangene Woensdag in die landdroshof in Pretoria verskyn het op aanklag van uitbuiting en poging tot uitbuiting. Die saak is tot volgende maand uitgestel.

“Die enigste verbintenis wat Clive aan die saak het, is dat hy die hardeskyf óf aan die persoon verkoop óf dit geruil het,” het Coertze gesê. “Dit is sy enigste verbintenis aan die saak.”

Dit is nie duidelik wanneer die afpersing plaasgevind het nie. Coertze het gesê Derby-Lewis is al sedert Maart in die hospitaal.

Die gevangene (35) is glo besig om met die staat te onderhandel oor 'n pleitooreenkoms, aldus die Sowetan. Hy dien tronkstraf uit by die Kgosi Mampuru-gevangenis nadat hy in 2008 skuldig bevind is op 32 aanklagte van diefstal en bedrog wat hy landswyd saam met 'n vriendin gepleeg het.

Derby-Lewis en Becker het albei tronkstraf uitgedien by dieselfde gevangenis.

Beeld-koerant het in Junie berig 'n man het R30 000 van Mariette Becker geëis, anders sal video’s van haar seun uitgelek word.

Becker en drie ander is in Februarie op parool vrygelaat nadat hulle 'n hawelose man in 2001 in Pretoria doodgeslaan het. Becker en sy medebeskuldigde, Frikkie du Preez, is egter vyf dae later weer in hegtenis geneem nadat 'n video aan die lig gekom het van die twee wat vermoedelik in die sel alkohol en 'n selfoon gebruik. Die video is op YouTube gepubliseer. Dit is nie duidelik of dit dieselfde beeldmateriaal is wat die man Mariette mee wou afpers nie.

Die Pretoriase hooggeregshof het in Junie Becker se aansoek, dat sy parool weer ingestel moet word, van die hand gewys. Hy dien tans tronkstraf uit by Kokstad-gevangenis.

Derby-Lewis is skuldig bevind aan sameswering om SAKP-leier Chris Hani op 10 April 1993 dood te skiet. Hy het die vuurwapen aan die Poolse immigrant Janusz Walus verskaf om Hani in sy oprit by sy huis in Boksburg aan die Oos-Rand te vermoor.
 
Die 78-jarige het al meer as 20 jaar van sy 25 jaar vonnis uitgedien. Hy is aanvanklik ter dood veroordeel, maar die vonnis is na lewenslank verander toe die doodstraf in 1995 afgeskaf is.
 
Hy het in Junie 2010 vir die eerste keer aansoek gedoen om parool. Die departement van korrektiewe dienste het op 30 Junie 2014 aangedui hy sal dringend aandag skenk aan Derby-Lewis se aansoek om mediese parool.

Derby-Lewis se vrou, Gaye, het gesê die bewerings van uitbuiting teen haar man is nonsens. “Dit is twak. Die berig is nonsens,” het gesê. Sy wou nie verder kommentaar lewer nie.
 
Sapa 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.