On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

National

Thuthukile Zuma se aanstelling deur departement verdedig

───   14:23 Fri, 25 Jul 2014

Thuthukile Zuma se aanstelling deur departement verdedig | News Article
Pretoria - Die departement telekommunikasie en posdienste het die aanstelling van president Jacob Zuma se 25-jarige dogter, Thuthukile Zuma, as personeelhoof van die departement, verdedig.

“Thuthukile Zuma se aanstelling is in ooreenstemming met die reëls en regulasies wat die aanstelling van mense in regeringsdepartemente reguleer,” het Siya Qoza, woordvoerder van die departement, in ‘n verklaring gesê.

“Die minister het slegs haar kapasiteit om die werk te doen sowel as haar kwalifikasies oorweeg.” Qoza sê Thuthukile se familiebande is nie in ag geneem nie.

Die Mail&Guardian het Vrydag berig dat Thuthukile “moontlik geskiedenis gemaak het as Suid-Afrika se jongste personeelhoof van ‘n minister se kantoor”. Sy verdien glo sowat R1 miljoen per jaar.

Volgens die berig is die pos moontlik ook nie geadverteer nie. Thuthukile het glo voorheen saam met Siyabonga Cwele, minister van telekommunikasie en posdienste, gewerk by die Staatveiligheidsagentskap.

Thuthukile is die jongste van president Zuma se vier dogters saam met sy eksvrou Nkosazana Dlamini-Zuma. Dlamini-Zuma is ‘n voormalige minister en is tans die voorsitter van die Afrika-Unie-kommissie.

Thuthukile het ‘n honneursgraad in Antropologie aan die Universiteit van die Witwatersrand.

Qoza sê die departement se menslike hulpbronbestuur-afdeling het die versekering gegee dat daar geen klagtes oor Thuthukile se aanstelling was nie.

Volgens die 2014 begroting vir nasionale uitgawes, is die personeelhoof van die departement van telekommunikasie en posdienste verantwoordelik vir ‘n begroting van R4,1 miljoen.

Die pos van personeelhoof word as ‘n baie magtige posisie gesien, met die posbekleër wat verantwoordelik is vir die oorhoofse bestuur van personeel sowel as die kantoor se begroting.

 
Maroela Media

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.