On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

National

ANC veroordeel Beeld se Zuma-artikel

───   07:56 Wed, 20 Aug 2014

ANC veroordeel Beeld se Zuma-artikel | News Article

Pretoria - Die ANC het Dinsdag 'n rubriek deur Adriaan Basson, redakteur van Beeld, veroordeel waarin hy die president kritiseer.

Die berig, Hoe raak ons ontslae van president Jacob Zuma?, het Maandag in die koerant verskyn. (Dit is in Engels vertaal en ook op News24 gebruik.) Basson voer in die rubriek aan die land benodig 'n nuwe leier en Zuma kan nie meer baie lank president wees nie. Hy glo Zuma is nie daardie leier nie en dit het duidelik na vore gekom in sy [Zuma] reaksie op verslae oor die opgraderings van R246 miljoen by sy huis in Nkandla in KwaZulu-Natal.

Zizi Kodwa, woordvoerder vir die ANC, het in 'n verklaring die rubriek as “minagtend” en “arrogant” beskryf. “Die artikel dui op 'n obsessie deur Basson om 'n vasbeslote, desperate en nuttelose veldtog te voer om van pres. Zuma ontslae te raak,” het hy gesê. “Hy ignoreer die wil van 11 miljoen Suid-Afrikaners wat die mandaat van die ANC hernu het, met Zuma aan beheer van sake om die land te lei.”

Kodwa voer aan Basson het “blatant gejok”. “Hy het gesê dat [Zuma] van beter moes weet toe 'n paleis uit die niet rondom hom verrys het,” aldus Kodwa. “Dit is algemeen bekend en die Openbare Beskermer het dit so bevestig dat die president nie van staatsgeld gebruik gemaak het om sy woning te bou nie. Pres. Zuma het al met die bou van sy woning begin en daarvoor betaal nog voordat hy as staatshoof van die land aangestel is. Dit is eers nadat die Suid-Afrikaanse Polisiediens betrek is, dat die koste van veiligheid na vore gekom het. Die ANC ondersteun die president sonder voorbehoud in sy versoek aan die minister van polisie om sy grondwetlike plig uit te voer om te bepaal watter van die koste van 'n veiligheidsaard is sodat hy, soos wat hy al minstens drie keer vantevore gesê het, private uitgawes van openbare uitgawes kan skei.”

Kodwa sê die ANC is onomwonde verbind tot vryheid van spraak, maar Basson hanteer demokrasie asof dit “wegdoenbaar” is deur drie opsies aan te bied om “voor 2019 van Zuma ontslae te raak”.

Basson het in reaksie op die ANC gesê die rubriek spreek vanself. Basson sê die artikel is nie bedoel om mense teen Zuma op te stook nie, maar bloot om te verwoord wat deur mense binne en buite die ANC gesê word. Hy voer aan mense word al hoe meer ontstel deur Zuma se gebrek aan leierskap.

Intussen het Marius Redelinghuys, woordvoerder vir die Demokratiese Alliansie, in 'n verklaring die ANC gewaarsku dat die skandaal van opgraderings by Nkandla nie gaan weggaan deur Basson aan te val nie. “Die histeriese reaksie op Basson se rubriek werp lig op die ANC se onsekerheid en onvermoë om rasioneel die luukse opgraderings te verduidelik. “Die vry en onafhanklike media is 'n waghond teen regeringsmisbruik, nie 'n skoothondjie wat dit teen ondersoek moet beskerm nie,” het Redelinghuys gesê.

Anton Alberts, woordvoerder vir die VF Plus, het gesê die aanval van die ANC op die media en op die koerant Beeld in die besonder is “ongehoord” en skep die indruk dat die ANC en sy leier wel ernstig is met die regulering van die mediawaghond in Suid-Afrika. “Die waarheid is dat Zuma self 'n persepsie geskep het dat hy iets het om weg te steek deur verskeie hofsake, sy vreemde vriendekring soos die Guptas en skandale soos Nkandla,” het Alberts bygevoeg. “Zuma moet as leier van die ANC en president van Suid-Afrika pa staan vir sy dade en as hy aanhoudend die persepsie bly skep dat die misbruik van staatsfondse en die vriendskap met ongure karakters in orde is, moet hy bereid wees om kritiek te verduur. In die lig hiervan is billike kritiek in orde, asook 'n oproep van die publiek en die media dat hy moet plek maak vir iemand beter.”
 
Sapa 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.