On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

National

Valke ontken klopjag was op 'verkeerde huis'

───   14:15 Wed, 27 Aug 2014

Valke ontken klopjag was op 'verkeerde huis' | News Article

Johannesburg - Die Valke het Woensdag ontken dat hulle op die verkeerde huis in Sandton toegeslaan het tydens ? operasie teen onwettige diamanthandel.

“Dit was nie die verkeerde huis nie, dit was die regte huis,” het Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, aan Sapa gesê. “Dit was volgens ons inligting die regte adres en ons het 'n lasbrief bekom om die eiendom te deursoek, maar ons het niks gevind nie.”

Ramaloko het reageer op 'n berig in The New Age dat lede van die Valke by die verkeerde huis ingebars het. Die koerant berig dat 'n gepantserde voertuig teen die huis se voorhek vasgery het en dat die elektriese heining en vensters en deure tydens die klopjag beskadig is.

Jennifer Peers, die eienaar van die huis, was saam met 'n negejarige meisie en 'n drie maande oue baba by die huis toe die klopjag daar uitgevoer is. Sy beweer die polisie het hulself nie geïdentifiseer of verduidelik hoekom hulle daar is nie. Sy het aan die koerant gesê haar huis se deure is afgebreek en die beamptes het gedreig om haar honde te skiet as sy die diere nie toesluit nie.

Die negejarige meisie was glo só vreesbevange dat sy met haar teddiebeer in 'n kas gaan wegkruip het.

Ramaloko het erken dat daar skade aangerig is by die huis, maar sê die huiseienaars ontvang die nodige ondersteuning. “Die kinders het dieselfde dag berading ontvang en ons het met die versekeringsmaatskappy geskakel oor die skade wat aangerig is,” het hy gesê.

Ramaloko sê die operasie genaamd “Projek Darling” is in 2012 begin en teiken diamanthandelsindikate in Suid-Afrika.
Hy sê daar is die afgelope weke klopjagte in Johannesburg en Kimberley uitgevoer en daar is reeds beslag gelê op meer as R4 miljoen se kontant, 66 diamante, 16 digitale skale, skootrekenaars, voertuie, twee vuurwapens, ammunisie en 'n olifanttand.

Ramaloko sê 26 mense is reeds in hegtenis geneem en van die verdagtes het reeds in die hof verskyn.
 
Maroela Media
 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.