On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

National

Ondersoek Lonmin, Ramaphosa vir belastingontduiking: EFF

───   12:53 Sat, 20 Sep 2014

Ondersoek Lonmin, Ramaphosa vir belastingontduiking: EFF | News Article

Pretoria - Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het 'n beroep op die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gedoen om Lonmin vir belastingontduiking te ondersoek nadat dit by die Farlam-kommissie aan die lig gekom het dat die maatskappy glo reuse kommissies aan agente in Bermuda betaal het.

“Nou dat daar bewyse is, doen die EFF 'n beroep op die SAID om Lonmin en sy direkteure te ondersoek met die doel van kriminele vervolging in gevalle waar daar bevind is dat daar opsetlike belastingontduiking was,” het Mbuyiseni Ndlozi, woordvoerder van die EFF, gesê.

Ndlozi het verontwaardig reageer op berigte dat Lonmin sowat R200 miljoen se kommissies betaal het aan 'n maatskappy in Bermuda, waar geen regulasies en belasting voorkom nie.

“Wat dit beteken is dat Lonmin, waar mynwerkers vermoor is en Cyril Ramaphosa 'n direkteur is, beweer het dat hulle nie geld het om werkers 'n minimumloon van R12 500 te betaal nie, terwyl hulle in realiteit miljarde rande na belastingtoevlugoorde verskuif,” het Ndlozi gesê.

Dit volg na 'n berig in die Mail & Guardian oor getuienis wat by die Farlam-kommissie aangehoor is. 'n Beampte van Lonmin het vroeër die week getuig dat die maatskappy tot en met 2012 kommissies aan die maatskappy in Bermuda oorbetaal het. Die betalings is stopgesit weens weerstand van Lonmin se plaaslike filiaal Incwala. Volgens die berig het Ramaphosa se Shanduka-groep 'n beherende aandeel in Incwala.

Die Farlam-kommissie is op die been gebring om ondersoek in te stel na die voorval in Augustus 2012 waar 34 mynwerkers by Marikana doodgeskiet is.
 
Sapa 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.