On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

National

14 vas vir renosterstropery

───   05:56 Mon, 20 Oct 2014

14 vas vir renosterstropery | News Article

Nelspruit - Veertien vermeende renosterstropers is sedert die begin van die naweek in die Krugerwildtuin in hegtenis geneem, het SANParke Sondag gesê.

Raynold Thakhuli, woordvoerder van SANParke, het gesê die 14 verdagtes is tydens drie suksesvolle operasies in hegtenis geneem. Hy het gesê 113 verdagtes is sedert die begin van die jaar in verband met stropery in die wildtuin in hegtenis geneem.

Volgens Thakhuli is vyf verdagtes Vrydagoggend in hegtenis geneem nadat SANParke-veldwagters 'n voertuig naby Skukuza van die pad af getrek en deursoek het. “Daar is op 'n .375-jaggewer, ammunisie en toerusting vir stropery sowel as die voertuig beslag gelê.” Thakhuli het gesê drie verdagtes is later die middag in Malelane in hegtenis geneem.

Die polisie in Limpopo het vroeër Sondag bekend gemaak dat 'n vermeende renosterstroper in die wildtuin doodgeskiet is. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die polisie, het gesê daar het Saterdag 'n skietery tussen SANParke-veldwagters en drie mans uitgebreek.

“Die veldwagters het die drie mans in Punda Maria opgemerk en beveel om stil te hou. Die mans het glo op die veldwagters losgebrand en die veldwagters het teruggevuur,” het hy gesê. Een van die mans is op die toneel dood en nog 'n man is in die knie en kuit gewond.

“Die ander verdagte het homself oorgegee en is in hegtenis geneem. Ons het op 'n jaggeweer, 'n byl, 'n mes en drie selfone beslag gelê,” het hy gesê. Volgens Mulaudzi het die oorledene 'n Mosambiekse weermaguniform aangehad terwyl die ander twee SANParke-drag aangehad het.
 
Sapa 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.