On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

National

Gee grond vir bekwame persone: Afasa

───   06:16 Wed, 22 Oct 2014

Gee grond vir bekwame persone: Afasa | News Article
Die regering moet seker maak dat grond aan individue gegee word wat die vermoë het om dit te gebruik, het die African Farmers’ Association of SA (Afasa) Dinsdag gesê.

“Ons stel dit aan Gugile Nkwinti, die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, dat ons 'n kriteria moet hê wanneer boere gekies word,” het Mzamo Mlengana, president van Afasa, tydens die vereniging se beraad in Pretoria gesê. Afasa is 'n organisasie wat swart boere verteenwoordig. “Wanneer mens 'n boer kies wat nie 'n boer is nie, is dit negatief vir dit wat ons doen. Dit stel ons en die regering bloot aan kritici. Die persepsie sal weereens wees, ‘kyk na die swart boere wat grond ontvang het; dit werk nie’.”

Hy het gesê 'n weldeurdagte grondhervormingsproses sal nie nasionale voedselsekuriteit bedreig nie en kan die land tot voordeel strek. “Ons moet genoeg kos in die land vervaardig. Ons moet poste in die landboubedryf skep. Sodoende kan ons armoede verlig,” het Mlengana bygevoeg.

Hy meen dit kan slegs gebeur wanneer boere opgelei word en die suksesverhale in die bedryf bespreek word.

Mlengana het gesê die Afasa-beraad het die regering se voorstel, dat plaaswerkers 50% van die grond moet kry waar hulle werk, verwerp.

Japie Grobler, voorsitter van die Agrisektor-eenheidsforum, het as gasspreker tydens Afasa se derde jaarkongres gesê die regering moet seker maak dat nasionale prioriteite voedselsekuriteit en ekonomiese stabiliteit insluit en dat dit nie in gedrang gebring word tydens grondhervorming nie.

“Grond sal herverdeel word in die land. Ons almal aanvaar dit,” het Grobler gesê. “Dit is net 'n kwessie van hóé. Dit moet só gedoen word dat dit bekostigbaar is. Dit moet só gedoen word dat meeste mense in die land dit aanvaar. Ons moet kos uitvoer om buitelandse valuta te verdien. Ons moet vrede in die land hê.”
 
Sapa 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.