On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

National

Thomas Ferreira: Staat vra tronkstraf vir blouligbestuurder

───   15:47 Fri, 21 Nov 2014

Thomas Ferreira: Staat vra tronkstraf vir blouligbestuurder | News Article

Johannesburg - Die blouligbestuurder wat Thomas Ferreira in November 2011 van sy motorfiets af gery het, moet nie net oor die vingers getik word nie maar tronk toe gestuur word, het die Krugersdorp-landdroshof gehoor.

“Die laaste ding wat die land nodig het is dat die beskuldigde net oor die vingers getik word,” het staatsaanklaer Micky Thesna Donderdag in die Krugersdorp-landdroshof aangevoer tydens die vonnisopleggingsprosedure van Joseph Motsamai Semitjie.

Thesna het aangevoer dat die padreëls in gelyke mate op almal van toepassing moet wees. “Die hof het die unieke geleentheid om sy fokus te skuif na die enigste ware BBP wat daardie dag op die pad was, en dit was Thomas Ferreira.”

Thomas Mohlobogoane, Semitjie se regsverteenwoordiger, het versoek dat sy kliënt tot korrektiewe toesig en 'n boete gevonnis word. “Dit is my voorlegging dat die voorgestelde vonnis heeltemal onvanpas is,” het Thesna egter aangevoer.

Ferreira se ouers het in die tweede ry van die openbare galery gesit. Sy ma het met haar hande in haar skoot gesit terwyl sy pa af en toe sy arm om haar skouers gesit het.

Thesna het voorgestel dat Semitjie tot tronkstraf gevonnis word. Sy het gesê die kultuur en ingesteldheid op Suid-Afrikaanse paaie moet verander. “Die beskuldigde het duidelik roekeloos opgetree. Die beskuldigde was in die diens van die Suid-Afrikaanse Polisiediens wat spesifiek daar is om die gemeenskap te dien en te beskerm en wat hy gedoen het, was presies die teenoorgestelde.”

Volgens Thesna het Semitjie nie berou vir sy dade getoon nie en was hy meer bekommerd oor die skade aan sy motor as die leed wat hy 'n mens aangedoen het.

Semitjie het in November 2011 die ampsmotor van Humphrey Mmemezi, destydse Gautengse LUR vir plaaslike regering en behuising, bestuur en 'n rooi verkeerslig verontagsaam toe hy Ferreira (toe 18 jaar oud) se motorfiets getref het.

Vonnisverrigtinge sal op 28 Januarie voortgaan.
 
Sapa 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.