On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

National

Baba L se beserings was nie ‘per ongeluk’ nie

───   06:24 Wed, 26 Nov 2014

Baba L se beserings was nie ‘per ongeluk’ nie | News Article

Pretoria - 'n Tweejarige dogtertjie wat slegs as Baba L bekend staan, se beserings is nie per ongeluk opgedoen nie, sy was die slagoffer van mishandeling, het 'n mediese kenner Dinsdag in die Pretoriase hooggeregshof getuig.

Dr. Lorraine Du Toit-Prinsloo, 'n forensiese patoloog, het getuig in die hofsaak van 'n 20-jarige vrou van Pretoria-Noord en haar 36-jarige kêrel wat ontken dat hulle die vrou se dogtertjie probeer vermoor het, haar mishandel het en versuim het om vir haar mediese behandeling te bied.
 
Die paartjie voer aan Baba L het van 'n stel trappe en 'n wasmasjien afgeval. Sy was reeds in 'n koma toe sy op 30 Desember 2013 na die Akasia-hospitaal gehaas is. Sy het bloeding op die brein, 'n fraktuur in haar heup, bloed in haar maag, 'n gekneusde nier, en 'n ernstige besering aan haar pankreas met kneusplekke oral oor haar liggaam gehad.
 
'n Patoloog het vroeër getuig Baba L is in 'n vegetatiewe toestand weens erge breinskade.
 
Prinsloo het gesê kneusplekke op die vel is die eerste teken van kindermishandeling. Drie dokters het getuig dat Baba L kneusplekke van verskillende kleure oor haar lyfie gehad het. Prinsloo het bevestig dit toon dat die kneusplekke nie op dieselfde tyd opgedoen is nie.
 
Die kneusplekke wat Baba L op haar boudjies gehad het, is gewoonlik 'n teken van klappe met die hand of houe met 'n gordel en 'n definitiewe teken van mishandeling.
 
Die klein rooi kneusplekkies op haar bors was van vingerpunte wat druk op die bors toegepas het en ook 'n duidelike teken van mishandeling, het sy bygevoeg.
 
Volgens die beskuldigde het Baba L op 15 Desember van die trappe afgeval, maar Prinsloo het gesê dit sou tot kunsmatige beserings gelei het en slegs een deel van die liggaam sou seergekry het, gewoonlik die kop en nek.
 
“Ek is van mening dat die verduideliking dat sy by trappe afgeval het, nie 'n geloofwaardige verduideliking vir die kneusplekke aan die kind is nie,” het Prinsloo getuig. “Ek is ook van mening dat kneusplekke wat op 15 Desember opgedoen is toe sy na bewering by die trappe afgeval het, sou nie meer teen 30 Desember sigbaar gewees het nie.”
 
Prinsloo sê indien sy van 'n wasmasjien afgeval het, sou sy verwag het om 'n kneusplek aan haar agterkop te sien, maar bloeding na die voorkant van haar brein. “Dit is ook kommerwekkend om 'n kneusplek agter die kind se oor op te merk. Mens verwag dit nie van 'n val nie, want dit is 'n beskermde deel.”
 
Sy het gesê in die 10 jaar wat sy nadoodse ondersoeke op kinders doen, het sy slegs pelvisfrakture gesien ná 'n val van 'n hoë hoogte soos 'n gebou of in 'n motorongeluk.
 
Sy het ook bevestig die pankreas is 'n beskermde orgaan in die maag en die besering wat Baba L opgedoen het, is baie seldsaam. “In my opinie is dié besering opgedoen deur 'n direkte hou met 'n voorwerp soos 'n besemstok wat haar maag beseer het.”
 
Prinsloo het verduidelik die vloeistof in Baba L se longe is moontlik 'n aanduiding dat sy byna verdrink het terwyl die bloed in haar maag toon dat sy bykans 20% van die bloeding in haar lyfie verloor het.
 
Die saak duur voort.
 
Sapa

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.