On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

World News

Alpe-vliegramp: Twee operasangers was aan boord

───   08:42 Wed, 25 Mar 2015

Alpe-vliegramp: Twee operasangers was aan boord | News Article

Parys - Twee operasangers, Oleg Bryjak (54) en Maria Radner (34) was twee van die slagoffers aan boord die vliegtuig wat Dinsdag in die Franse Alpe neergestort het en waartydens al 150 persone aan boord gesterf het.

Bryjak en Radner het albei na Duitsland teruggekeer nadat hulle onderskeidelik die basbaritonrol en altrol in Richard Wagner se Siegfried in Barcelona opgevoer het.
 
Reddingspanne sal na verwagting Woensdag teen sonsopkoms die helikoptervlugte na die afgeleë berggebied in die suide van Frankryk hervat. Die Airbus A320 van Germanwings, 'n dogtersmaatskappy van Lufthansa, het Dinsdag in klaarblyklik goeie weerstoestande naby Prads-Haute-Bleone neergestort. Daar was 144 passasiers en ses bemanningslede aan boord Vlug 4U 9525 onderweg van Barcelona in Spanje na Düsseldorf in Duitsland.
 
Volgens owerhede was dit 'n ongeluk en Duitse sekuriteitsbeamptes het aan Deutsche Presse-Agentur (dpa) gesê daar is geen bewyse van terrorisme nie.
 
Die gebied waar die vliegtuig neergestort het is onherbergsaam en die wrakstukke lê versprei oor die steiltes. Buiten die helikopterspanne is daar ook 'n span van 65 reddingswerkers wat te voet die gebied aandurf.
 
Manuel Valls, eerste minister, het gesê die afgeleë gebied en reën bemoeilik die situasie vir die werkers en dit sal moontlik dae lank duur voordat al die oorskot herwin is.
 
'n Woordvoerder van Lufthansa het bevestig die 24 jaar oue Airbus het Maandagoggend 'n tegniese probleem ondervind met die deur van sy neuslandingstoerusting. Die probleem hou verband met 'n luikdeur wat moet oop- en toemaak wanneer die landingstoerusting ontplooi word en daar is glo tydens 'n roetineherstel daaraan gewerk.
 
Carsten Spohr, voorsitter van Lufthansa, het gesê die vliegtuig was in 'n “uitstekende toestand”.
 
Bernard Cazeneuve, Frankryk se minister van binnelandse sake, het gesê die vlugopnemer is opgespoor en is aan ondersoekbeamptes oorhandig vir analise. Volgens hom is 380 brandbestryders, 300 soldate, 12 helikopters en 'n weermagvliegtuig ontplooi om te help met die herwinningspoging.
 
Francois Hollande, president van Frankryk, het in 'n telefoonoproep sy medelye betoon met die Duitse kansellier Angela Merkel.
 
Die Spaanse eerste minister Mariano Rajoy het ook sy meegevoel betuig met Merkel. Die drie leiers sal Woensdag die toneel besoek. Drie dae van rou het reeds in Spanje begin.
 
Volgens beamptes was daar minstens 67 Duitsers en 45 Spanjaarde aan boord. Daar was ook 'n persoon van België, een van Denemarke, en twee persone, 'n vrou en haar volwasse seun, van Australië. Volgens mediaberigte in Israel was daar ook 'n 39-jarige sakeman van dié land aan boord.
 
Vlug 4U 9525 moes om 09:35 by Barcelona se El Prat-lughawe opgestyg het, maar die vlug is tot 10:01 vertraag. Die vlug sou om 11:55 in Düsseldorf geland het.
 
Thomas Winkelmann, uitvoerende hoof van Germanwings, het gesê die vliegtuig het om 10:45 sy normale vlughoogte van 12 000 meter bereik, maar het na een minuut begin daal. Volgens hom het die vliegtuig vir agt minute lank skerp gedaal voordat dit die grond getref het.
 
Franse lugbeheerkontrolleerders het om 10:53 kontak verloor met die vliegtuig toe hulle ongeveer 1 800 meter bo die grond was.
 
Volgens die Franse burgerlike lugvaartowerheid het die bemanning nie 'n noodsein uitgestuur nie. 'n Beampte van die lugbeheerkamer het 'n noodsein uitgestuur nadat hy kontak verloor het met die vliegtuig.
 
Die vlieënier werk al 10 jaar lank vir Lufthansa en Germanwings en het 6 000 vlugure op die Airbus. Die A320-vliegtuig is in 1991 aan Lufthansa oorhandig. Die vliegtuig het 58 300 vlugure tydens 46 700 vlugte opgedoen en het Maandag 'n finale roetineondersoek ondergaan.
 
Sapa

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.