On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Nolwethu
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Laurika
Listen Live Streams

Yellow Door

’n Brief aan my beminde

───   ELZETTE BOUCHER 06:00 Mon, 22 Apr 2013

’n Brief aan my beminde | News Article

Elzette Boucher vat 'n vet kans en publiseer 'n brief gerig aan die liefde van haar lewe…

’n Brief aan my beminde

My liefste,

Ek bou vandag ’n brug en bring vir jou ’n brief. Nie ’n e-pos, ’n SMS of ’n BBM nie, ’n brief op papier netjies self met die hand getik (want daar was ’n keer wat een van my nota’s in die wind weggewaai het en ek hoor dis toe na ’n ruimteagentskap gestuur vir ontleding…).

My wens is dat dit goed gaan met jou daar waar jy jou nou bevind. Maar ook nie té goed nie, dat jy my sal mis…

Ek onthou toe jy my eerste skoolkys was. Ons was tien en ons was bankmaats. Juffrou het dit goedgedink om die seuns en dogters langs mekaar te laat sit. Vir leerders van daardie lewenstadium was dit seker ’n gepaste raat om giggels te verminder, maar ons kry toe ander afleiding. Ons het skelm briefies, presentjies en boodskappe gestuur via maatjies wat mekaar gedurende pouse ontmoet het op die grens tussen die seuns- en dogterskant van die terrein. Daardie dae het ons salig onbewus beleef wat onskuld was.

In ’n oogwink was almal groter en het ons elke dag geleef met die besef dat ons jong jongdae van die kortste in ons lewe sou wees.

Ek sal nooit al die danse vergeet waar ek moedig probeer voorttrap en jy my vasbeslote saamgesleep het nie. Daar was altyd die skelm afterkuiers in jou koshuiskamer waar ons moes koes vir die gangpolisie wat alte maklik kon inbars of gedreig het om die deur af te hamer en ons stil soos muise ons asems opgehou het.

Ook die geleenthede waar ons sonder keer mal aangegaan het, sal my ewig bybly. Ons was roekeloos, hedonisties en ontembaar saam, met die wêreld aan ons voete.

Dan was daar die keer wat die ontnugtering van die grootmenslewe gedreig het om my plat te trek. Jy was daar om my op te tel en regop te hou wanneer my en ander se dwase besluite my geknak het. Saam met jou het ek weer leer leef en myself wees wanneer ek nie meer so seker was nie.

Twintig jaar later en tyd ontbloot die patroon. Iemand wat nooit ontbreek, al is hy nie daar nie – in oomblikke van teenwoordige afwesigheid en afwesige teenwoordigheid. Jy bly ’n teenstrydigheid, ’n raaisel.

Ons twee saam was altyd ’n allervreemde kombinasie – the odd couple. Die wilde een en die stil een, die diepseun en die flerrie, die bejaarde en die minderjarige… (Oukei, dalk te ver gegaan met daardie beskrywing, maar waaraan sal mens dan nou emosionele wasdom meet?)

Soveel ongelooflike oomblikke het ons met mekaar gedeel en aanhou deel en opreg geglo dat dit vir ewig die geval sou wees. Het ek geglo dat die een jy sou wees.

My beminde, snaaks hoe ek jou in al hierdie oomblikke gesien, maar nooit gevind het nie. Dit was toe nie jy nie, nè? Ek’t my keer op keer misgis en gedink dit is nou uiteindelik jy, maar jy was nooit een van hulle nie. Ek het my lewe met hulle gevul en met hulle gedeel in die hoop dat dit jy was. Maar dit was nog nie jy nie, was dit?

Dalk beur jy op jou eie pad op soek na my. Of glo jy blind, soos ek, jy’t my reeds gevind. So terwyl ons deur die lewe steier glo ek steeds hoopvol in die dag wat ons in mekaar se blik ontmoet, my beminde.

Droom van my,

Jou beminde

*Aan al die eerste liefdes, beste dans dates, redders en aweregse ervaringe: ek sal nooit een van julle vergeet nie. Julle is steentjies in die brug op pad na die ontmoeting met my beminde…

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.