On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Nolwethu
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Laurika
Listen Live Streams

Yellow Door

Tekens van die tye

───   ELZETTE BOUCHER 17:57 Wed, 23 Oct 2013

Tekens van die tye | News Article

Elzette Boucher sukkel om te verstaan wat om haar aangaan - is dit die tekens van die tye?

So betrag ek onlangs weer die M. Night Shyamalan-treffer, Signs.  Ek’t in die gees van grillerige Oktober begin om my eie fliekfees te besig. Terwyl die res van die land op strepe trou en romanties verkeer in die mooiste maand, hunker ek maar na die Noordelike Halfrond se Halloween.  Minus die sataniese konnotasies natuurlik.  Ek geniet ’n goeie spookstorie, maar nie noodwendig ’n human sacrifice nie.  En almal in die movie moet natuurlik oukei wees aan die einde.  Moenie dat ons verby mekaar praat nie….

Terwyl ek myself in die bonatuurlike verbeeldingsvlug van M. Night verlustig, wonder ek oor tekens. Tekens en betekenis.

Vir diegene wat dalk nog nie Signs gekyk het nie, dit handel oor ’n plattelandse gesin  wat sukkel om die dood van die moeder te verwerk. En of dit nie erg genoeg is nie, moet hulle uit die inval van ruimtewesens trotseer.  Als werk natuurlik mooi uit in die einde, want daar was tekens wat hulle in die regte rigting gelei het.  En soos die storie verloop besef hulle al meer wat tekens was.

Die ouer garde het altyd geprewel oor die tekens van die tye.  Ek wil nou nie die esoteriese by hierdie gesprek met myself wat ek deel, betrek nie.  Tekens is tot ’n mate tydloos, maar die betekenis kan tog verander en verwring na mate die wysers aanskuif…

 
Ek sukkel nogal met tekens in die moderne tyd.  In die sandput het sauna dalk vir jou ’n verlepte daisy of ’n halfvermoorde kriek gebring om sy intensies duidelik te maak.  Maar deesdae is dit bietjie meer ingewikkeld.  ’n Skuutjie tequila is dalk ’n liefdesopenbaring of eerder iets meer duister.  Maar die dae van blommetjies is lank reeds verby.

 
Tekens is natuurlik subjektief en gebonde aan ’n verwysingsraamwerk.  Mens moet noodwendig leer wat sekere goed beteken. Verkeersligte is redelik uniform regoor die wêreld, maar so nie padmerke.  Mens kan jou lelik misgis as jy ’n westerse verwysingsraamwerk in die ooste wil toepas…

 
Mens moet ook natuurlik die tekens kan raaksien en aanvaar. Soos bv. as jou jeans styfspan ná die winter.  Is dit ’n teken dat die materiaal gekrimp het, of is dit ’n teken dat jy té gulsig weggelê het?  Laasgenoemde is natuurlik moeilik om te aanvaar, maar ja – die tekens is daar…

En die voorreg om te kan sien.

 
Ek veral kan my blindstaar teen iets wat ek beskou as ’n teken of dit heeltemal mis.
 
Soos waarskuwingstekens. Die jeans wat styfspan beteken heel waarskynlik dat daar sal moet plangemaak word voordat nuwes nodig is en nog tien kilo’s afgeskud moet word.  En dat die ou vlamme wat by my drempel opdaag se intensies dalk nie té edel is nie.

 
Nie te min, ek vrek ook daaroor om elke kommunikasie fyn te ontleed – veral die wat ek oor elektroniese mediums ontvang.  Afhangende van die graad van malheid wat ek op daardie stadium beleef, kan ’n onskuldige ‘hoe gaan dit?’ as ’n huweliksaanbod of afjak interpreteer word.  
 
Ek weet ook nie juis wat om met ’n eenvoudige vraag soos ‘wat maak jy?’ te doen nie. Is dit ’n uitnodiging vir ’n kuier of bloot ’n meningspeiling van wat vraer se vriende op daardie stadium doen?

 
Is daar nie iewers ’n handleiding vir die sosiaal lompes nie?  Soos mens ’n gids kry met padtekens in, ’n gids vir sosiale aanvaarbare kommunikasie.
 
Ek is redelik vertroud met verkeerstekens, maar sukkel maar om die tekens in mense raak te sien.  Stel hierdie ou belang… Haat sy my nou… Wat dink hulle?  Ek wens ek het geweet.  Ek blameer al die jare se verleiding in die sandput.

 
Dalk het iemand dalk ’n voorstel?  Hoe gemaak met die tekens van hierdie tye?  Want, miskien as kommunikasie nog per brief geskied het sou mense geduldiger gewees het.  In die outentieke tye kon mens nie so maklik van plan verander soos nou nie.  Miskien is dit tog ’n commitment kwessie, eerder as verstaan wat om jou aangaan.  Maak ’n besluit en hou daarby.
 
Intussen, los maar ’n boodskap.  Dalk kom ons bymekaar uit.

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.