On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Yellow Door

Om te oorleef is nie Survivor nie

───   GISELA ULLYATT 09:31 Wed, 20 Nov 2013

Om te oorleef is nie Survivor nie | News Article

Gisela Ullyatt besin oor die beuselagtigheid van Survivor se “realiteit” wanneer dit in konteks geplaas word teenoor die onuitspreekbare werklikheid van die Holocaust.

Realiteitsprogramme is ’n uiters gewilde genre op die kassie. As dit nie een of ander kookkompetisie is wat eindelose resepte soos ’n worsmasjien uitpomp nie, is dit verwende telge wat ’n nanny nodig het om hulle te dissiplineer.

Dan is daar Survivor.

Die wenner se prysgeld is enorm. Die blootstelling alleen beteken dat deelnemers kitsklare roem inoes. Hulle sluit aan by die galery van twyfelagtige reality stars soos al die K’s van die Kardashians (as jy nie weet waarvan ek praat nie: jy mis absoluut niks nie). Dié bedryf is egter kortstondig en die voorland van meeste deelnemers is vergetelheid.

Tog is Survivor een van die gewildste programme op die aardbol. ’n Valse realiteit word geskep vir kykers, wat glo dat hierdie mense aan vreeslike ontberinge ly. Die “pret” begin wanneer deelnemers in twee spanne verdeel word. Byna onmiddellik word die groepdinamika geopenbaar. Die pseudo-leiers merk hul gebied af deur manipulasie en individue met lydelike aggressie maak asof hulle almal ernstig opneem. Agteraf word die dolk sommer ekstra in die wond gedraai. Kykers gulp dié melodrama in.

Die realiteit van Survivor strek egter so ver as wat die vervaardigers dink dit sal verkoop en alles hang van redigering af. Alles.

Maar werklike belewing van realiteit is unscripted.

Die afgelope paar dae is ek verdiep in Viktor E. Frankl se Man’s search for meaning. Frankl was ’n Joodse psigiater. As iemand ’n realiteitsprogram oor ’n sekere periode van sy lewe sou maak, sou hulle nie weet wáár om te begin nie. Dit sou onuitspreekbaar wees. Frankl het vier Nazi konsentrasiekampe oorleef. Vir alle praktiese doeleindes moes hy nie tot 1997 geleef het nie, want ses miljoen ander Jode is verdelg gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Net ’n handjievol Joodse skrywers het hierdie uitwissingskampe oorleef soos Paul Celan, Eli Wiesel en Primo Levi.

Wat het Frankl dus van die res onderskei? Hoekom het hy oorleef en ander nie? Niemand weet nie. ’n Moontlike antwoord lê in Frankl se boek wat hy gedeeltelik op flenters gekrabbel het; iets wat tot sy onmiddellike teregstelling kon lei. Frankl het sy eie terapie uitgedink, gebaseer op die ervaring van die ergste wreedhede in moderne geskiedenis. Hierdie terapie het selfs ’n paar mede-gevangenes gered.

Meeste slagoffers van hierdie uitwissingskampe het een of ander stadium selfdood oorweeg. Daar was nimmereindigende brutaliteit, ondervoeding, slawearbeid en Josef Mengele se mediese eksperimente (veral gedoen op kinders wat tweelinge was). Maar die ergste realiteit was die onsekerheid van elke minuut van hulle bestaan. Enige oomblik kon die SS besluit om iemand te folter, in die kop te skiet, hang of dood te slaan; vir die gaskamers te selekteer, of letterlik sy eie graf te grawe. En vir geen ooglopende rede nie.

Toe een van die gevangenes besluit om homself teen die elektriese heining te werp, het Frankl hom gevra: Is daar nog iets wat jy wil doen voordat jy doodgaan? Die man het ’n bietjie nagedink en geantwoord dat sy dogter vir hom oorsee wag; sy was een van die min wat betyds kon vlug. Hy het opeens besef dat hy tóg iemand gehad het om voor te leef. Dit is die essensie van Frankl se logoterapie: the will to meaning. As jy nie betekenis vind in iets of iemand nie, het jou lewe afgestomp tot sinloosheid. Frankl wou ten alle koste leef en dit was sy hartewens om die boek wat reeds in sy kop was, te publiseer.

Dis hier waar Survivor inkom. Is daar enige ooreenkomste tussen ’n konsentrasiekamp en Survivor? Ja: elke mens het sy eie lewe lief en vrees vernietiging. Hy/sy sal letterlik enigiets doen om sy/haar eie lewe te red. Survivor is berug vir rugstekery. In ’n kamp moes jy op ’n daaglikse basis iemand verloën, anders sou jy nie die volgende sonopkoms beleef nie. Dis egter hier waar alle ooreenkomste stop. Wat hedendaagse kykers as survival sien, het niks te doen met werklike oorlewing nie.

Survivor is vermaak. Jy kan jou mikrogolf-aandete sit en kou terwyl die survivors verskillende “brutale” take moet afhandel. Ja, dis beslis nie maklik nie; hulle kosrantsoene is beperk en almal verloor gewig. Maar het hulle mediese dienste tot hulle beskikking wanneer een van hulle beseer sou word? Ek sou daarop reken. Word enige van die deelnemers van hul fundamentele menseregte ontneem wanneer hulle in die verloorspan is? Nee. Staar hulle gewisse dood in die oog elke minuut van die dag? Beslis nie.

Wanneer ’n deelnemer uitgestem word, word hy teruggevlieg huis toe na sy familie. Sy huis is nog daar; sy lewe voor Survivor. Ja, deelnemers het ’n paar dinge ontbeer. Maar iemand soos Frankl se hele familie is uitgewis, behalwe vir een suster wat na Australië kon vlug.

Die kernverskil tussen ’n realiteitsprogram en die belewing van realiteit is die volgende: keuse. Jy kan kies om op Survivor te wees. Maar ses miljoen Jode het geen keuse gehad nie.

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.