On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Yellow Door

Wydsbeen Woensdag

───   ELZETTE BOUCHER 20:22 Thu, 21 Nov 2013

Wydsbeen Woensdag | News Article

Partykeer kan mens nog onkant betrap en verras word… Elzette Boucher het onlangs bietjie gaan uitstrek op die dansbaan van lewenslesse…

Wydsbeen Woensdag
 
A-ha! Die titel het eintlik net ten doel om jou aandag op dit wat volg te vestig…

Ek’t onlangs gepoog om ’n dekade oue instelling terug te bring - Slut up Saturday. Die verwysing na Wydsbeen Woensdag is die Afrikaanse eweknie van ’n soortgelyke gebeurtenis, maar dan nou op die ‘Klein Saterdag’…


Terug by Slut up Saturday


In my prille jeug was dit heel gepas om op ’n Saterdagaand die koshuis te verlaat in die minste en blinkste wat jy kon bymekaar skraap en uit(t)rek. Ná ’n paar blitsbesoeke aan verskeie minder agtenswaardige instellings word die dansvloer op ’n selfs minder respektabele plek, behoorlik deurgetrap.


Dit het vir menige aande se vermaak en gebreekte/verlore studentekaarte gesorg.


Die idee is nie om vraatsig deur te werk of af te knou nie. Dis meer om vir ’n rukkie minder ordentlik te wees en ’n rol aan te neem. ’n Skuilnaam of twee is ook nie te versmaai nie, en kan moontlik noodsaaklik wees indien jy die aand sonder teuels aanpak.


Mens wil ook nie noodwendig hê dat plesiersoekers jou drempel deurtrap nie. Daar moet sekere grense gestel word – al is dit net aan jouself…


Hoekom sal mens dan nou ’n aktiwiteit aanpak wat feministe se eenkleurige toonnaels in hul praktiese skoene laat omkrul?


Noem dit maar escapism. Iewers diep binne-in elke kragvrou is daar hunkering na ’n goue kroon en ’n silwer randjie. Almal wil ‘Prinses Pragtig’ wees.


En vir iemand wat ’n ugly duckling was en steeds van harte is, is dit ’n ander wêreld.


Om ’n minder beskeie rokkie uit te toets, my hare in te krul, my wimpers uit te krul en letterlik ’n stoute paar skoene aan te trek – dis amper so avontuurlustig as om ’n oorsese reis sonder ’n paspoort aan te durf.


Ek’s nie seker of mans soortgelyke aksies besig nie? Wat sou dit dan nou behels – stort, skeer… Dis seker maar ’n girl thing om op te dress.


Die Franse elektronika groep Daft Punk sing saam met die Amerikaanse rymkletser Pharell Williams oor hoe mans heelaand op die jag is, maar vroue meestal uitspan vir die pret. En soos die laataand na die klein ure van die oggend omslaan, klink dit volgens die liedjie of dit nogal die Adams eindeloos frustreer.


Nou dit kan ek en my baie beskeie kerfstok beaam. Ek kan vir ure dans en kuier en tekere gaan sonder enige intensies of planne om grot toe gesleep te word. En dan raak die ramme baie onrustig as hul attensies of aankope van drankies nie dadelik jou knieë verlam nie. Plus dan is daar diegene wat aanvanklik heel gretig voorkom, maar dan uiteindelik nie die knoop kan deurhaak nie.


In ieder geval, waardigheid moet behou word. Die idee van ’n Slut up Saturday is nie om jouself goedkoop te maak nie, maar om jou hare ’n bietjie te laat loswaai, bietjie van die steeksheid (almal lees tog asb. “stubbornness” hier) te laat gaan en meer toeganklik te wees. Dalk ontmoet jy ’n prins tussen die paddas. Die keuse lê by jou.


Byvoorbeeld, onlangs op die dansbaan…


Van die meer aweregse komplimente wat ek al by ’n straight ou gekry het, is jou oë lyk soos albasters en jy soen soos ’n kampioen… maar nog nooit waardering vir my skoene nie. Ek’t dadelik gedink daai lyn kom seker uit die Men’s Health uit, maar ek moet toegee dis ’n awesome paar skoene.


So terwyl ek wonder oor die skoene en onmiddellik ’n kollega wil bel wat my vroeër oor hulle geterg het, gebeur daar ’n bietjie magic. Ek ontmoet ’n pragtige persoon en ons maak ’n Mystic memory.


Vir diegene wat nie met Die Mystic Boer vertroud is nie, dis een van die oudste instellings in Bloemfontein. My Mystic memories sluit ondermeer in langarm in die reën in die straat, die stalk van ’n baie bekende komediant en die beste onderhoud van my lewe. 100% goeie tye – soos hul slagspreuk ook dan nou lui…


So, van tyd tot tyd is ’n Saterdagaand sonder teuels dalk nie ’n slegte idee nie. Mense kyk baie keer by mekaar verby, ons wil nie mekaar raaksien as ons mekaar nie ken nie. Vreemdes bly vreemdes en word nooit vriende nie.


Terwyl jy saam met die paddas bons kan dit gebeur dat iemand langs jou kom staan wat nie binne oomblikke deur jou vriende weggepluk gaan word nie. Skielik is daar borrelende gesprekke oor alles en niks. Vir ’n oomblik sien iemand die persoon agter die pretpakkie raak. Dalk het die glitter aanvanklik sy oog gevang, maar hy’t gebly om meer uit te vind.


Vir ’n oomblik voel jy gekies soos julle hande op autopilot in mekaar in vou terwyl jy kar toe stap. Vir ’n oomblik vind jy uit waaroor jy al heelaand gewonder het….


Môreoggend post jy ’n smiley face op jou Facebook, want, so verspot as wat die aand was, het dit tog betekenis gehad.


Vir ’n oomblik was jy vry om te kies.


Vir ’n oomblik het jy iemand se oog gevang wat heeltemal bo jou vuurmaakplek is.


Vir ’n oomblik was jy gekies.


*Dankie aan almal wie se kwinkslae ek kon leen. Geen name is genoem nie… Sien julle Saterdag! Of dan nou Woensdag…

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.