On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Yellow Door

Kersfees in eenvoud

───   CHRISTO OLIVIER 18:12 Wed, 27 Nov 2013

Kersfees in eenvoud | News Article
Kersfees en tyd beteken mos maar verskillende dinge vir verskillende mense, net soos “daai tyd van die jaar” en ek huiwer amper om die woorde te gebruik, want dit raak afgesaag, ek meen sommige mense sê dit al van Oktober af, wens letterlik die tyd om.  Maar wanneer November na sy asem begin snak, liggies aan kersbome begin flikker en jy ‘n 2014 almanak deur die pos ontvang, begin dit op ‘n ander manier met my praat,  weet jy dat die tyd meedoënloos aanstap, dat nog ‘n jaar van jou lewensreis byna voltooi is.  Wat twaalf maande terug soos ‘n onbekende pad eindeloos voor jou uitgestrek gelê het, se einde is nou in sig.

En dit doen dinge met my.  Ek neig maar altyd na bietjie terugkyk, terugdink, vashou aan onthou-oomblikke wat nie altyd ‘n goeie ding is nie, want ‘n onvolmaakte wêreld deel ook sy seer, skerppunt-oomblikke met jou, tye van teleurstelling wat jy liewer wil vergeet, veral toe die pad draaie geloop het wat jy nooit voorsien het nie, jou lewe in ander rigtings gestuur is.  Jy onthou ook dinge waaroor jy snags wakker gelê het, maar toe nie regtig die verlore slaap werd was nie.  Jy wonder wat jy nou eintlik bereik het, of jy ‘n verskil gemaak, iets vir iemand beteken het, van die wêreld ‘n beter plek help maak het en of jy maar net saam met die stroom gedryf en gehoop het jy word nie op ‘n verlate plek uitgespoel nie.

Aan ‘n nuwe jaar wat wag om jou binne te nooi, wil jy nie noual dink nie. Daar is eers hierdie wegbreektyd wat voorlê, Kerstyd met al sy wel en weë wat vir sommige mense saamwees, sonskyn en blou branders beteken en vir ander miskien alleenwees met baie waaroms en min of geen antwoorde nie.  Dis die wêreld van kontraste waarin ons leef en miskien was dit maar nog altyd so, het ons dit vroeër net nie agter gekom nie, veral nie toe ons self nog briefies vir kersvader geskryf het nie.  So, het elkeen sy eie ervaring en verwagtinge van wat bedoel is om ‘n fees van vrede en vreugde te wees.  Hoekom anders sou ons sing van “Joy to the World” of "Hoor die blye eng’lelied?” Dis ‘n tyd wat veronderstel is om ‘n boodskap van blydskap en dankbaarheid te adem.

Maar dis of iets daarvan êrens verlore geraak het, baie mense bloot die teks vergeet het of dit verkeerd lees.  Ek kom juis nou die dag af op iets wat Nataniël lank terug hieroor geskryf het : “Tussen al die histeriese inkopies en ongelooflike bedrae geld wat spandeer word en kinders wat vertel van ouers wat goedkoop wyn langs woonwaens verslind, kan die mooiste verpakkings en die blinkste strikke bloot nie meer die blydskap wat daar eers was, optower nie.” En min het sedertdien verander nie waar nie. Vraag is hoekom? Wat het geword van “time to rejoice in the good that we see,” die “love and laughter and joy ever after” waarvan Cliff Richard in sy liedjie “Christmas Time” sing? Gelukkig ervaar baie mense dit wel, maar ander beskou dit as ‘n uitnodiging om te laat waai, op ‘n verkeerde, soms rampspoedige manier van hulle sorge te vergeet.  

Hoekom wil ek deesdae met Kersfees al meer in my dop kruip?  Liggies en sagte musiek is my voorkeur, maar kerse en stilte doen dit ook vir my.  Miskien het dit iets te doen met ‘n Kerstyd wat volgens Braam Hanekom ‘n vermoeiende tyd geword het en dat ons dinge ‘n slag weer eenvoudiger moet maak.  Dis soos Josef en Maria begin het. In eenvoud.  
 
Toe Bethlehem uit sy nate bars en al wat herberg en gastehuis vol was en hulle nie kontakte gehad het om vir hulle êrens toutjies te trek nie, was hulle tevrede met ‘n krip en ‘n stal.  Buite wemel dit van mense, daar is volop aksie in die strate, maar in die stal self het daar waarskynlik net kerse gebrand. Ek weet nie of die wyse manne of die paar skaapwagters wat na die wonderkind kom kyk het, iets gesê het nie, maar ek vermoed daar sou net saggies gefluister word sodat die baba nie wakker word van al die aandag nie.

Eeue later sou ‘n jong assistent-pastoor van die St Nicholas kerkie in Oberndorff, Oostenryk, Joseph Mohr, iets van hierdie eenvoud probeer weergee in sy gedig “Stille Nacht,” ‘n lied met heelwat stertjies by. Daar is selfs in ‘n stadium geglo dat Haydn, Mozart of Beethoven die musiek geskryf het totdat ‘n verwerking daarvan in die handskrif van Mohr gevind is waarin pertinent aangedui word dat die musikant en onderwyser, Franz Gruber, skepper van die pragtige melodie was. Wat ek tot onlangs nie geweet het nie, is dat die oorspronklike gedig ses versies gehad het.  Ek weet nie hoe groot die kerkie daar weggesteek in die Alpe was nie, of hoeveel mense daardie oukersaand in 1818 die diens bygewoon het nie, maar ek glo daar moes ‘n soort gewyde stilte oor die kerkgangers toegesak het toe dìe twee meesters en ‘n klein koortjie  hierdie lied die heel eerste keer met kitaar-begeleiding gesing het. Ek het al baie gewonder wat die mense se reaksie was?  

Stille Nag is glo in sowat driehonderd tale en dialekte vertaal en is vir miljoene mense wêreldwyd sinoniem met kersfees,  maar het dit die mense van die klein gemeentetjie in Oberndorff naby Salzburg, daardie eerste keer ook aangegryp?   Het dit iets in hulle wakker gemaak of was daar ‘n gevoel van skouers optrek, ken dit nie, sal dit maar mettertyd aanleer. Miskien het daar sneeu buite geval en het hulle saggies die melodie geneurie terwyl hulle na die diens in dik jasse teruggestap het huis toe waar kaggelvure die koue help verdryf het.  Mohr en Gruber was albei glo nederige en eenvoudige mense en het klaarblyklik nie veel van die lied verwag nie, want volgens ‘n Kersfees geskiedkundige, Bill Egan, het ‘n orrelbouer, Karl Mauracher, wat soms herstelwerk aan die orrel moes doen, eers jare later ‘n kopie van die lied daar sien lê, dit huis toe geneem en kon die eenvoudige kerslied sy reis om die wêreld begin.
Maar terwyl ek nog hieroor wonder, speel Irving Berlin se “White Christmas” oor die radio en begin ek droom van ‘n wit kersfees “where the tree tops glisten, and children listen, to hear sleigh bells in the snow.”   Wat ‘n belewenis sal dit nie wees nie.  Vir eers sal dit egter net ‘n droom bly en sal ek maar saam met Koos du Plessis uitsien na ‘n somerkersfees in hierdie stukkende land van ons. Maar terwyl klappers skiet, honde blaf en motors se toeters die vrede en stilte versteur, sal ek ‘n kers aansteek en met toe oë luister na ‘n ander bekende lied :

“A ray of hope flickers in the sky,
A tiny star lights up way up high
All across the land, dawns a brand new morn
This comes to pass, when a child is born.”
 

 


   

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.