On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Yellow Door

Ope brief aan my vriend se ongebore seun

───   DANE BEISHEIM 21:01 Tue, 10 Dec 2013

Ope brief aan my vriend se ongebore seun | News Article

Dane Beisheim voer 'n eenrigtinggesprek met Abri, oor 'hoe hy nie vir 'n beter pa kon vra nie'.

Liewe Abri (want dit is wat jou ouers beplan om jou te noem),

Jy ken my nie, maar ek weet al ’n rukkie van jou bestaan. My eerste kennismaking met jou was toe jou pa Gerhard vir my ’n foto van jou gewys het waar jy so groot soos ’n boontjie in jou ma se buik was. Eerlikwaar kon ek nie mooi uitmaak waar presies jy was nie, maar hy het vir my die versekering gegee dat jy wel iewers binne die swart-en-wit sonar is. Hy’t ten minste 60% seker van sy saak geklink. Voor ek verder voortgaan met my skrywe moet ek dalk myself eers behoorlik aan jou voorstel. Hallo, ek is Oom Dane. Jou pa en ek is al pelle vandat ek verstand het – met ander woorde toe ons mekaar op universiteit ontmoet het.

Nodeloos om te sê sien ek baie daarna uit om jou in lewende lywe te ontmoet, aangesien jy die helfte jou ma se kind en die ander helfte jou pa s’n is. Jou ouers is twee van my gunsteling mense in die hele wye wêreld. Aangesien jy die produk van hulle samekoms is, is dit ’n logiese afleiding dat jy een befokte klein seuntjie gaan wees! Ek het dit goed gedink om in my brief jou ’n bietjie meer van jou pa te vertel soos wat ek hom ken. Jy sal natuurlik jou hele lewe hê om jou pa te leer ken en julle eie unieke verhouding te smee, maar hy sal altyd weens julle biologiese verbintenis bloot net “Pa” wees vir jou. Ek wil jou graag egter vertel van die ander Gerhard. My vriend.

Soos reeds genoem, het ek hom ontmoet op universiteit. Ons het saam by Die Wapad studentekoerant gewerk.
 
 
 
Daar is bitter gou tot die besef gekom dat ons van baie dieselfde dinge hou, soos ruk-en-rol musiek en vinnige karre. Maar ek en jou pa deel meer as net hierdie gemeenskaplike belangstellings. Hy is loshande die beste ou wat ek die voorreg het om te kon bevriend. Jou pa is een van die mees beginselvaste mense wat ek ken. Hy beskik oor ’n diepgesetelde sin van wat reg en verkeerd is. Waar my eie morele kompas telke male afwyk, is jou pa altyd Noord op koers. Hy is regverdig. En op sy eie stil wyse, dalk selfs sonder dat hy dit weet of ten volle die omvang daarvan begryp, het hy soveel belangrike lesse vir my geleer in my lewe.

Een hiervan is dat daar nie ’n probleem op aarde bestaan wat nie uitgesorteer kan word met ’n rustige gesprek oor ’n sigaret en ’n blikkie Coke nie.
 
 
 
Wanneer daar dinge oor jou pad kom wat dalk te groot voel om te hanteer, neem ’n blaai uit jou pa se boek en besin rustig daaroor. Stap uit die vertrek waarin jy jouself bevind, gaan sit onder ’n boom (soos ek, hy, Gerhard, Lindie, en al ons ander vriende soveel keer gedoen het in die verlede), en bekyk die probleem vanuit ’n ander hoek. En as jy steeds nie weet watter kant toe om te gaan nie, hê asseblief tog die vrymoedigheid om jou pa te raadpleeg. Ek doen dit tot vandag toe, en hy gee altyd vir my die beste raad. En ek is nie eers sy seun nie!
 
 
 
Dit is nou al ’n hele paar jaar sedert ek en jou pa saam geswot het hier in Potchefstroom. Daardie tyd het ons mekaar elke dag gesien. Maar nadat ons klaar studeer het, het ons paaie geskei soos dit maar geneig is om te gebeur. Waar sommige van my ander verhoudings wat ek daai tyd gehad het oor die jare vervaag en selfs verdwyn het, is jou pa se vriendskap een van die standvastigstes waaroor ek beskik. Maande kan verbygaan waarin ons mekaar nie sien nie weens die geografiese skeiding tussen ons, sowel as ons besige skedules – maar wanneer dit wel gebeur dat ons die tyd kan afknip om saam te kuier, dan is dit asof ons die laaste gesprek wat ons gehad het net so hervat! Hoe gelukkig is jy nie om so ’n rots in jou lewe te hê nie Abri!

Iemand wat ek ook in daardie dae ontmoet het was natuurlik jou ma. Sy was by my ander werk – die kampusradiostasie PUKfm – my baas gewees, en het my eerste waarskuwing vir my gegee omdat ek in die ateljee gedrink het. Ondanks haar streng karakter, sal jy agterkom dat sy eintlik ’n skattebol is! Gerhard en Febe was van die begin af ’n package deal gewees. Ek het hulle leer ken net nadat hulle begin uitgaan het.
 
 
 
Dus het ek jou ouers se verhouding sien blom sedert daardie eerste aanvanklike maande tot op hede, en was ek daar vir die meeste van die groot mylpale – hul verlowing, hul troue (waar ek my bes probeer het om nie die kakste seremoniemeester ooit te wees nie), en nou mees onlangs ook die blye nuus van jou opkomende geboorte! Deurgaans was jou pa die toonbeeld van hoe ’n man veronderstel is om sy vrou te behandel, naamlik as sy gelyke. Jou ouers se liefde is ’n pragtige ding, en behoort die voorbeeld te wees vir hoe jy jouself eendag teenoor jou wederhelfte gedra.

Alles wat ek tot nou toe kwyt geraak het in hierdie brief mag dalk baie ernstig geklink het. Jy sal wel gou besef dat jou pa moerse fun ook is! Wanneer jy eendag oud genoeg is moet jy hom tog vra om die volgende staaltjies aan jou oor te vertel (of ek sal as jy belowe om nie jou ma te sê nie. Ek beskik steeds oor ’n gesonde dosis vrees en respek vir haar).
• Die aand wat ek skuiling by jou pa se woonstel gaan soek het nadat ek my huis se sleutels verloor het (wat ’n barmhartige samaritaan is jou pa nie!)
• Die Aardklop toe PUKfm se dak ineengestort het weens die baie reën,
• Die keer toe ons al die Die Hard flieks op een dag gekyk het (en hoekom ek die eerste ene en die helfte van die tweede film gemis het)
• Die keer toe jou ma lus was vir fudge en ons Johannesburg toe gery het om dit te koop,
 
 
 
• Die keer toe alles geel was,
• Die keer aan die begin van jou pa se loopbaan as motorjoernalis toe hy sy eerste 4x4 roete in ’n Ford aangedurf het,
• Daai keer toe sy kamermaat hulle toilet gebreek het,
• Die dag wat ons geleer het hoe om hand-break turns in ’n motor te doen,
• Die dag van sy ramparty toe hy die slegte geluk gehad het om saam my in ’n paintball span te wees.

Daar is soveel meer stories wat ek nie eers dadelik nou kan onthou nie! O die wonderlike tye wat jy en jou pa saam gaan hê! Hy beplan op die oomblik reeds vir die dag wanneer hy jou gaan leer hoe om ’n kar te bestuur. Hy weet alreeds watter belangrike flieks hy saam met jou wil kyk (onder meer die eerste drie Star Wars films), en hy raak kinderlik opgewonde aan die blote gedagte van watter geur jou heel eerste roomys in jou lewe gaan wees! Die eintlike punt wat ek net met hierdie ellelange brief probeer maak het, is dat jy oor niks bekommerd hoef te wees nie. Alles gaan fine wees. Want Gerhard is jou pa. Vir ’n beter ene kon jy nie vra nie. Ek kon sekerlik nie vir ’n beter vriend gevra het nie. So maak gerus nou jou verskyning, ons almal sien baie daarna uit om jou nou te ontmoet!

Tot dan,

Vriendelike groete vanuit Potchefstroom,

Oom Dane.
 
 
 
 
 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.