On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Yellow Door

Inspirasie vir 2014 - wat ‘n “Moshpit”, “Life of Pi” en branderry jou kan leer

───   ANSJA FERREIRA 12:19 Thu, 20 Feb 2014

Inspirasie vir 2014 - wat ‘n “Moshpit”, “Life of Pi” en branderry jou kan leer | News Article

Min mense se lewens verloop sonder skommelinge en swaartes wat hul deursettingsvermoë toets. Terwyl alles tydelik is en dus ook die probleem, moet elke dag aangepak word soos 'n branderplankryer die branders lees . Ansja Ferreira gee inspirasie vir mense wat reeds al 'n paar groot golwe in 2014 oor hul lewenspad beleef het.

 
2014 lê in al sy glorie voor ons soos ‘n groot onbekende oseaan en nie een van ons weet wat die jaar vir ons gaan inhou nie.   Daar gaan tye wees wat die water gaan in- en uittrek. Dan gaan daar laagwaters, hoogwaters, springgetye, tye van storms en selfs tsoenami’s wees en dan weer tye van rustigheid en kalmte.  
 
Hier is ‘n bietjie inspirasie vir die nuwe jaar:  
In April 2013 het ek vier  Golden Circle kaartjies vir die Metallica-vertoning in die hande gekry en ek en my man en my twee tienerseuns is sak en pak Johannesburg toe om die show te gaan kyk.  My man raak toe effe benoud heel voor en ons gaan staan toe bietjie agtertoe, min wetende dat ons in die “slagyster” trap en in ‘n “moshpit” gaan beland!  Ons is skielik in ‘n sirkel en word rondgestamp, selfs met bier gegooi.  “Wat is ‘n moshpit?” Ek het nog nooit voorheen daarvan gehoor nie, maar nou het ek my in ene bevind.

Moshing word ook genoem  “slamdancing” en is ‘n dansstyl waar die deelnemers mekaar stamp of teen mekaar vasloop.  Dit word gewoonlik by “live shows” gevind en vind gewoonlik in ‘n sirkel plaas, wat dan die moshpit vorm.  Dit is energiek en volle liggaamskontak vind plaas.  Ek en my man het kalm gebly, gemaak of ons dit geniet en saam met die vloei beweeg totdat ons rustig kon uitbeweeg.  Ons het darem uit die moshpit ontsnap sonder enige blywende letsels en het boonop iets nuuts geleer: ‘n mens is nooit te oud om te leer nie.  
Die hele ondervinding het my laat dink dat die lewe ook so is, ‘n mens weet nooit waarin jy jou volgende gaan bevind nie, jy dink nog als is reg, dan stamp goed jou rond en gebeur die onverwagse, en net skielik is jy weer daaruit.  En so was die res van 2013 ook.   In die rolprent Forest Gump sê Forest se ma vir hom die volgende wyse woorde:  “Life is like a box of chocolates, you never know what you’re gonna get next”.

Ek het die uitstekende rolprent Life Of Pi twee keer gekyk, want een keer was nie genoeg nie.  Dit is ‘n verhaal van uithouvermoë en net nooit opgee nie, selfs in die strafste omstandighede.   Pi het nie hoop verloor nie en het bly beweeg en heeltyd besig gebly om die tier Richard Parker te versorg.  Of dit die see, die storms, die honger, sy hartseer oor sy familie en geliefde diere wat hy verloor het of die gevaarlike tier by hom in die reddingsbootjie was, hy het net nooit moed opgegee nie.  
 
Wanneer dit vir jou voel of jy net nie meer kan nie, onthou dat hierdie stadium van jou lewe, soos alles in die lewe, net tydelik is en ook sal verbygaan.  Onthou dat daar altyd geleenthede op jou pad sal kom soos vlieënde visse vir kos of reën vir drinkwater of ‘n drywende eiland vir ‘n bietjie rus en kragte opbou, wat jou sal help om ‘n bietjie lafenis te vind, totdat jy die vaste land van sukses sal bereik.  Jy moet net nie opgee nie.  
 
Aan die einde van die rolprent, vertel Pi twee stories aan die Japanese ondersoekbeamptes wat hom in die hospitaal besoek.  In die eerste, “beter”  storie was hy saam met diere op die reddingsbootjie en in die tweede, meer grusame storie saam met mense en is daar sprake van kannibalisme en onnoembare wreedhede.  Dit is vir die leser van die boek of die kyker van die rolprent om te besluit watter storie die ware storie is, maar vir Pi was die eerste storie waar, omdat die tier vir hom die rede was dat hy oorleef het.  Of die tier werklik bestaan het en of die tier sy alter ego of in sy verbeelding was, wat dinge vir hom meer draaglik gemaak het om die grusame dinge wat gebeur het, te kon hanteer en te oorleef, is nie ter sprake nie, al wat belangrik was, is die tier het sy lewe gered.  
 
  Pi het 227 dae op die oop see in ‘n klein reddingsbootjie oorleef, met net ‘n uitgegroeide Bengaalse tier as geselskap of dalk ‘n tier in sy verbeelding wat deel van homself geword het, wat hom ‘n rede gegee het om te leef en die grusaamhede wat hy beleef het, te kon verwerk.  

Gesondheidsprobleme, verbrokkelde verhoudings, mislukkings en teenspoed is van die dinge wat deel vorm van ons almal se lewens.  

‘n Mens moet dan probeer om nie die oomblik te probeer vries nie.   “Die skrywer Leo Babauta het dit as volg beskryf:  “Die lewe is meer soos die see, wat gedurig verander met geen vaste paaie of bestemmings nie, met deinings, getye en golwe wat alles elke oomblik verander.  Die uiteindelike vaardigheid, is nie om ‘n bestemming (doelwit) of ‘n pad (plan) daar te stel nie, maar om die branders te ry.  Deur die branders te beweeg en te verander wat jy doen, afhangende soos wat die vloei verander”, skryf hy.  Neem elke golf wat kom, leer om jou oordeel te gebruik soos wat die golwe kom, leer om die golwe te ry soos wat dit verander, nie soos wat jy dit beplan het nie.
  
Voorspoed vir 2014!

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.