On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Yellow Door

My Duitse seun

───   ANSJA FERREIRA 09:43 Fri, 21 Feb 2014

My Duitse seun | News Article

Ansja Ferreira vertel van die wonderlike ervaring om 'n Duitse uitruilstudent te huisves.

 “Die gesinsopset is presies dieselfde en die kos is baie dieselfde as by ons in Duitsland. Julle is baie Europees,” het Duitse uitruilstudent  Max Heller aan my gesê net voor hy terug Duitsland toe is. En dit het my laat besef dat warmte in ‘n huis, familiebande en lekker kos oor die wêreld heen vir mense belangrik is en hulle oral tuis laat voel.
Max het in 2013 op ‘n koue, winderige wintersdag toe alles  vaal was, soos ‘n sonstraal in ons lewens ingestap toe ons hom by die lughawe gaan haal het. Sy eerste woorde aan my was ‘n versigtige “Is it dangerous here?” en “It is so dry here”.
 
 Max is sewentien jaar oud en kom uit München. Hy en sy suster Josephine (15 jaar) het vir 6 weke in Bloemfontein kom skoolgaan, hy by Grey-kollege en sy by Oranje. Max het by ons en Josephine by ‘n ander Bloemfonteinse gesin gebly. My eerste indruk van hom is dat hy maar net soos een van my eie seuns is, al kom hy so ver en praat hy gebroke Engels. Ek het gewonder hoe vreesbevange hy dalk gevoel het om Suid-Afrika toe te kom en wat hy verwag het om te sien, wat hy dalk vooraf van Suid-Afrika gehoor het, miskien dat  wilde diere in die strate rondloop.
Max het besonder goed in ons huisgesin ingepas en baie geheg geraak aan die vyfjarige Larissa. Hulle het elke dag die hase en diere gaan kosgee en hy het vir haar Duitse volksliedjies gesing, wat vir haar vreeslik snaaks was. Max moes ook ‘n paar keer inspring as Larissa se budjies en hase uit die hok ontsnap het. Hy moes help vang. Sy het gereeld op sy skoot aan die slaap geraak in die TV-kamer. Hy het selfs help kook en aartappelslaai gemaak, wat hy “kartoffelen brie” genoem het. Ons het groot pret gehad, soos die keer toe sy skoolklere nie betyds wou droogword nie en hy dit in die kombuis met die haardroër drooggeblaas het. Ook toe die klere per ongeluk in ‘n bak kos beland het en dit weer gewas en drooggeblaas moes word. Ons het diep gesprekke oor die “holocaust” en “apartheid” gehad en het saamgestem dat dit nie uit die geskiedenis uitgevee kan word nie, maar dat die lewe aangaan.

Soggens is hy saam met my twee seuns by Grey-kollege afgelaai, netjies geklee in volle Grey-uniform en het hy presies net soos die ander seuns gelyk, niemand kon sien dat hy van ‘n ander land kom nie. Hy het die Engelse klas bygewoon en in die middae hokkie en tennis gespeel. Hy was geweldig beïndruk met die skool se sportterrein, want volgens hom moet die Duitse leerlinge na klubs gaan as hulle aan sport wil deelneem. Hy het selfs saam met die Grey-seuns op die bus geklim en die rit na Stellenbosch meegemaak om hokkie te speel by die interskole-byeenkoms. Max het ook ‘n Oranje-dinee en ‘n kultuuraand bygewoon, ‘n skool in die townships gaan besoek en saam met die kinders klasgeloop.
 
Saans het hy graag saam met my kinders voor die televisie gesit en hy was lief om met sy pantoffels in die huis rond te loop, wat gewys het dat hy tuis voel. Ons en die uitgebreide familie het hom rondgeneem en het hy Mandela se standbeeld besoek op Naval Hill, was by Oliewenhuis, ‘n leeuplaas en winkelsentrums. Hy was deel van familiebyeenkomste, partytjies, fliek en Spur-besoeke. My ouers het ons ook een keer uitgeneem vir ‘n buffetete by die casino en ons almal het ons verstom hoe baie kos Max kon eet met so ‘n klein lyfie. Hy was veral lief vir gesonde kos soos vrugte en slaaie en was mal oor braaivleis, varktjops en mieliepap. Hy het selfs van my hoendersop gehou (my eie kinders haat my sop)! Hy het ook nie koffie gedrink nie, net tee, maar ek het hom eenkeer oorreed om my koffie te proe, waartoe hy huiwerig ingestem het. Daarna het hy net koffie gedrink, glad nie meer tee nie, en selfs kort-kort vir nog koffie gevra. Sy ouers het vir my pragtige geskenke gestuur, fyn porselein uit Duitsland en Duitse sjokolade wat deur die hele familie verorber is binne ‘n dag of twee en waaroor daar byna ‘n vuisgeveg tussen my kinders plaasgevind het.

Max se ouers het ons kom besoek en kom kyk waar hul seun gebly het. Hulle het ons en die ander gasteouers uitgeneem vir ete. Sy pa is ‘n dokter en sy ma ‘n huisvrou, ‘n mooi blonde vrou met sagte, blou oë. Toe ek hulle ontmoet, sien ek hier’s ons gesin, net ‘n bietjie anders en in Duitse vorm, maar baie dieselfde in vele opsigte. Ons het verskriklik lekker gekuier en die ouers kon ons nie genoeg bedank dat ons hul seun ingeneem en so mooi na hom gekyk het vir die ses weke nie. Ons is ook almal genooi om hulle te kom besoek in München. Eintlik vat ‘n mens ‘n kans om jou kind net so blindelings die vreemde in te stuur as jy nie die mense vooraf ontmoet het nie, het ek later by myself gedink.

Max kom ook uit ‘n baie groot huisgesin, hulle is vyf  kinders en hy het ook ‘n laatlam- boetie, ‘n pragtige ou rooikopseuntjie.  

Dit is vreemd hoe gou ‘n mens aan iemand geheg raak.”Ek glo dat mense op jou pad kom met ‘n doel en dat jy ons gaan onthou op jou lewenspad vorentoe, Max. Ek mis jou vandag, my Duitse sonstraalseun en is spyt dat jy nie kan sien hoe mooi Bloemfontein in die somer is en wanneer die rose blom nie. Jy het ons koue winter ‘n bietjie warmer gemaak.  Ons kom kuier in 2015 by jou!”
 
 Max is die donkerkoppie op die foto, saam met sy broers Jakob en Franz, en sy suster Josephine.
 
 

 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.