On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Yellow Door

Dis nooit te laat nie (al gaan dit net oor suurstof)!

───   ALBÉ GROBBELAAR 15:17 Mon, 03 Mar 2014

Dis nooit te laat nie (al gaan dit net oor suurstof)! | News Article

Albe Grobbelaar het uitgevind dat daar tog maniere is waarop ‘n mens, in die wyse woorde van Langenhoven, jou swaarkry met lekkerkry kan klaarkry:

 

Daar kom ‘n tyd in die lewe van ‘n man (ek kan nie namens vrouens praat nie) dat jy nie meer wonder nie.  Jy wéét. Dis nou of nooit!  As daar nie baie vinnig dramatiese koersaanpassings gaan kom nie, gaan een van daardie styllose stasiewaens van AVBOB lank voordat jy gepak het, by wyse van spreke, voor die huis stilhou.  En as die toeter blaas vir daardie laaste “trippie” langbome toe, is dit te laat.  

Jy begin wakker lê oor al die dinge wat jou dokter al jare lank opnoem.  Jou eet- en drinkgewoontes, die rokery, en dan veral jou oefengewoontes (of die totale gebrek daaraan).  

Die rook het ek redelik maklik gelos. Cold Turkey! En net toe ek wou-wou bekommerd raak oor my kulinêre kaskenades, toe verskyn die núwe Tim Noakes op die horison met sy gesaghebbende gesprekke oor die voordele van vetterige tjops en die belangrikheid van biltonghappies tussenin.  Sug van verligting.  

Maar die oefen-ding is ‘n uitdaging.  Met die Groot Ses wat begin loer (SESTIG, stupid!) besef jy daar is te min tyd oor om vir veel meer te mik as dalk net ‘n bietjie ekstra suurstof in die skemerjare.  Vir ‘n “six pack” is jy twee dekades te laat.  Die dokter sê jy moet probeer om darem jou hartspoed so ‘n paar keer per week bietjie op te stoot, al gaan stap jy net ‘n entjie in die straat. En bietjie te sweet ook as dit nie te veel moeite is nie, dankie.  

Die Gym-ding het nog nooit vir my gewerk nie.  Van ‘n “personal trainer” práát ek nie.  Dit voel heeltyd asof almal vir my loer.  En daar is spieëls orals.  Glo my, op hierdie ouderdom wil jy nie elke keer as jy opkyk, bevestiging kry dat dit te laat is nie.  “My mirror twin, my next of kin,” skryf Leonard Cohen pragtig in daardie gedig van hom “A Thousand Kisses Deep”. En dan praat hy van sy “secondhand physique”.  (“Been working out, but it’s too late, it’s been too late for years”.)

Gym is uit.  En wie wil nou in Bloemfontein se strate gaan stap?  Nee, die antwoord, dit besef ek na dae-lange diepe denke, die antwoord is ‘n trapmeul.  Hy is geduldig. Dag en nag beskikbaar.  Nooit te moeg om te help nie. En, les bes, hy verklap nie jou geheime nie.  

As ek raad kan gee: Moet nou nie die duurste trapmasjien op die mark gaan soek nie.  Die goed se pryse wissel letterlik van R2,000 tot amper R20,000, en hulle hou maar ewe lank.  Daai kleintjies (“bottom of the range” soos hulle sê) is heeltemal voldoende.  Ek het ‘n “Trojan” gekoop (hoop nie dis my Trojaanse Perd nie!)  Die slagspreuk sê alles:  “MY SPACE, MY TIME”.  

Soos byna alle mans (ek kan nie namens vrouens praat nie) lees ek nie “Instruction Manuals” nie.  Ten minste nie voordat ek elke knoppie gedruk het om te sien wat gebeur nie.  Met die trapmeul is dit dieselfde.  Ek pak uit, skroef vas, prop in, skakel aan en klim op.  En toe begin ek die knoppies druk.  En kort voor lank toe begin die loopband draai en ek begin stap.  Al hoe vinniger.  Hol naderhand volspoed.  ‘n Muis in ‘n laboratorium.  Toe dit te erg word, en ek nêrens die brieke kry nie, toe spring ek maar af en pluk die muurprop uit.  

Weer begin.  Stadiger die keer.  Bril opsit om te lees wat langs elke knoppie geskryf is.  En toe begin dit beter gaan.  Die enigste foutjie wat ek maak, is om vir drie oefensessies die metertjie wat my hartspoed wys, met die een wat my verbrande kalorieë lees, te verwar.  (Dis nogal ‘n “comedown” om sopnat gesweet na ‘n halfuur se gehol te besef jou hartspoed is nie net 60 nie!)

As jy dalk ‘n soortgelyke “lewensverandering” oorweeg, hier is ‘n stukkie advies (eintlik twee stukkies advies):

Eerstens:  Moenie elke dag probeer om jou “rekord” van die vorige dag te “breek” nie.  Ons mans is mos nou maar so bedraad. As jy nie teen iemand anders kan meeding nie, dan kompeteer jy met jouself. (Ek kan nie namens vrouens praat nie).  Dit gaan nie werk nie! Vra my.  (Dag Een, 2 kilometer, 30 minute. Dag Twee, 2.2 km, 28 minute.)  Jy gaan binne ‘n week ophou en nie weer begin nie.  

En dan tweedens:  Kry iemand om saam met jou te oefen.  Ek het vir Jerry Seinfeld gekry.  Elke middag as ek op die trapmeul klim, dan sit ek een van Jerry se Seinfeld-episodes in die DVD-speler, draai die TV kliphard, en leef my in Jerry (en George en Kramer en Elaine) se eskapades in.  Dit trek jou aandag af. Dit laat jou vergeet jy word moeg.  Dit maak dat jy uitsien na die volgende oefensessie.  Jerry is my oefenmaat.  Hy staan my by deur dik en dun.  En ons voel nogal dieselfde oor gimnasiums ook.  Vertel hy my nou die middag:

“The one thing, Albe,” sê hy vertroulik, “the one thing I don't get about the gym, is why we're so careful about locking up our dirty towels and smelly jock-straps. What exactly is the black market on these disgusting gym clothes?”  

Hy wag ‘n oomblik sodat sy woorde kan insink.  En toe gaan hy aan.  “You know, Albe, I give my car to any valet guy in front of a restaraunt because he has a short red jacket, yeah he must be the valet guy, I don't even think about it but my stinking, putrified gym clothes, I got one of these locks you could put a bullet through it and it won't open. That stuff is safe.”  

Geniet jou oefening, en veilig trap.  En kry vir jou ‘n oefenmaat.  (Sorrie, Jerry is klaar gevat!)  




(Twitter:  @albegrobbelaar)


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.