On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Yellow Door

My nooi is in ‘n nartjie

───   KARIEN JORDAAN 11:05 Thu, 06 Mar 2014

My nooi is in ‘n nartjie | News Article

Vir party mense is dit sig, vir ander gehoor, maar vir Karien Jordaan is dit reuk.

 
Die reuk van petrol laat my lekker voel. Of eintlik moet ek sê, die reuk van outydse petrol sit sterretjies agter my ooglede. Deesdae se loodvrye petrol ruik, om die waarheid te sê, vrek sleg.

Die hunkering na die reuk van petrol kom ‘n lang pad. Ek was tien jaar oud en die Jordaantjies het op ‘n drie week lange reis na die destydse Rhodesië vertrek. Pa moes ‘n kombi aanskaf. Ons elkeen moes ‘n sitplek hê. Die kombi sou moontlik soms as slaapplek moes diens doen. En dit het. Meer as een keer.

Almal ingelaai. Pa en Ma voor, die seuns op die agterste bank en ons meisies in die middel.

Tydens die lang pad van die Kaap, oor Johannesburg en die Beitbrug, wou Ma seker maak ons vergeet dié trippie nooit. Allerhande speletjies uitgedink en gespeel, gesing, mekaar geterg en elke paar uur stilgehou vir daai salige oomblikke wanneer die tenk volgemaak word.

My venster kon nie afdraai nie, maar ek het my neus so ver as menslik moontlik deur die driehoekige lugvenstertjie geforseer en die fassinerende, bedwelmende petrolreuk diep ingeadem.

Die ander kinders het skuimkoffie by die garage se masjien gaan koop, maar ek het net bly sit – in diepe vervoering oor daai reuk…

Ek het Ma onlangs gevra wat sy van die toer onthou. “O, my kind, nou moet ek ver terug dink…” het sy gemymer. “Wat ek onthou is dat ek my eerste geel Hibiscus gesien het – net anderkant die grens. Ek dink dit was in Umtali. So ‘n groot, geil, geel Hibuscus-blom. Ek kon nie glo ‘n mens kry ‘n geel Hibuscus nie.” Ma was nog altyd ‘n plante-mens. Selfs in die ouetehuiskamertjie waar sy deesdae woon.

Ek onthou heelwat van die Rhodesië-toer. Die olifante wat ons in die Wankie wou bestorm, die misreën by die Valle en my paniek toe Wynand maak of hy daar gaan afspring, ma se kitty waaroor sy as trotse penningmeester waak, die TV-stel waarna ons in ‘n Salisbury-winkelvenster staar, die rylopersoldaat wat ons oplaai  en Riëtte wat vir ewig daarna na hom verlang, en die rietdak-curiowinkels waar ek ‘n ivoor (!) olifanthangertjie as souvenier koop.

Maar die ander reuk van daai vakansie, wat ek vandag nog kan herroep, was Pa se Polaroid-kamera. O, die absolute ekstase wanneer Pa die knoppie druk, nog ‘n knoppie druk en dan ‘n paar oomblikke wag totdat die gedrukte foto met ‘n sagte bzzzzz uit die kamera stoot. En daai skerp reuk van die chemikalieë wat die hele ding moonlik maak. Ek wonder wat van Pa se Polaroid geword het.

Deesdae staan ek maar nader as iemand met gom werk – dis nou wel nie so intens soos die reuk van outydse petrol nie, maar nietemin ‘n skaflike tweede prys.  
 
(Twitter: @kopereend )

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.