On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Yellow Door

In dáárdie dae...

───   CATHY DE LANGE 14:31 Wed, 26 Mar 2014

In dáárdie dae... | News Article

So begin meeste van die ouer garde se stories aan hul kinders en kleinkinders van vandag. Cathy de Lange het egter, effe met ? skok, besef dat die stories van haar kinderdae aan haar eie kinders ook nou so begin.

 Die jaar: 1989. Die plek: ? klein Oos-Vrystaatse dorpie met die naam Clocolan. Die omstandighede: ? 8-jarige dogtertjie en haar pa wat op ? warm Vrystaatse nag op daardie dun, plastiese, geblomde matrassies op die voorstoep “uitkamp” – sonder enige heining om die huis slaap hul daardie aand op die stoep, sonder om bang te wees.

Dit klink soos iets uit ? ou fliek. Ek kan amper nie dink dat dit ? werklikheid was nie, maar glo dit of nie, dit was! Ek en my pa het menigte aande die sterre so lê en bekyk. As ek dit nou vir my kinders moet vertel sal hulle dit nie vir hulself kan voorstel nie. Hoekom nie? Omdat tye so verander het dat my generasie dinge beleef het wat my kinders se generasie nooit sal ken nie.

Onthou jy nog dáárdie dae? Die dae van straat-krieket, tot so laat in die nag dat jy nie meer die bal kan sien nie, want die straatlig is te flou. Of om by jou maatjie te gaan kuier, op die fietse te klim en die wêreld te gaan verken soos wafferse avonturiers. Trompie sou trots wees! Dis nog iets wat vandag se kinders nie ken nie. Trompie. En Saartjie. Jis ek het deur ? Saartjie-stadium gegaan waar ek pligsgetrou, elke oggend voor skool, die hopscotch roetine op die sypaadjie se blokke plaveisel gedoen het – sonder om aan een van die krake te raak, natuurlik. En ja, ek sal ook nou vir my kinders kan vertel hoe ons in dáárdie dae skool toe geloop het. Ek was in Sub B (nou graad 2) en kom winter of somer, loop het jy geloop, en dit was heerlik! Elke oggend tien voor sewe was dit tyd vir die oggend strokiesprent. Wanneer dit klaar was, het jy geweet dis tyd om te stap. So ook elke aand net na 6 wanneer jy klaar gebad het en jou maag al vol was van aandete, het jy geweet dit is tyd vir Haas Das. Stories soos McGuyver het van jou ? uitvinder en planne-maker gemaak. En Mina Moo en Knersis was groot bederf op ? Vrydag middag.

Ons het op ? stadium langs ? spruit in Wepener gebly en ons kon, mits jou huiswerk gedoen was natuurlik, smiddae in die spruit gaan speel. Net ek en my boetie, heel middag lank. Daar het ons menigte boomhuise, modder-skuilings en forte gebou. En kleilat gegooi. Mens! Dat jy met sulke lekker groot blou kolle kon spog die volgende dag. Raak dit skemer het my pa op die voorstoep gestaan en gefluit soos net hy kon. Dan weet jy – tyd om huis toe te gaan, jou te gaan skrop en aan te sit vir ete.

Dit maak my so bietjie hartseer dat my kinders meeste van hierdie ervarings nooit sal hê nie. Veral nie as stadskinders nie. Wat ook waar is, is dat hulle weer ? hele nuwe era met ? magdom geleenthede vir ontwikkeling om hulle beleef wat ons nie gehad het nie.

Tog laat dit my glimlag as ek terugdink en ek besef dat ek weliswaar die stories van my kinderjare vandag aan my kinders kan oordra met die woorde: in dáárdie dae. Wie sou kon dink. Ai hoe oud voel ek nou ;)

Twitter: @cathydelange

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.