On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Yellow Door

Lewende herinneringe

───   DANE BEISHEIM 11:18 Fri, 28 Mar 2014

Lewende herinneringe | News Article

Dane Beisheim gaan wandel onder die akkerbome van sy gedagtes na ’n spesiale plek.

Ek kan net dink hoe absurd ek moes gelyk het. Daar sit ek, al +130kg van my bebaarde glorie, helder oordag, agter die stuurwiel van Druiwepit (my blou 1300 Toyota Tazz), en ek snik soos ’n babatjie. Die ander motoriste het seker gedink ek is van my sinne beroof. Hoekom hierdie hewige uitlating van rou emosie, vra jy dalk, liewe leser? Want Tomstraat 4 in Potchefstroom is ‘ten gronde’. Gesloop. En vir wat? Seker om plek te maak vir een of ander vulgêre neo-Toskaanse woonstelkompleks.

Jong Dane het baie tyd by Tomstraat 4 spandeer. Ek en my vriende het dit wel nie destyds Tomstraat 4 genoem nie. Daardie huis het ’n naam gehad. ’n Naam wat, lank voor ek my opwagting in Potchefstroom as student gemaak het, reeds bestaan het. Dit was Die Shack. Die Shack het in daardie stadium vir talle jare al ’n heenkome gebied vir jong mense wat hulself nie as koshuisinwoners gesien het nie. Jongmense van ’n spesifieke gesindheid. Kunstenaars. Digters. Sangers. Musikante. Dit was ’n herberg waar swerwende siele op die lewensreis van adolessensie tot volwassendheid tydelik bymekaargekom het om te rus en te gesels.

My vriendin Daleen het in Die Shack gewoon. Haar kamer was verwyderd van die hoofhuis. Die sitkamer het op die tuin uitgeloop. Dit was ’n wonderlike botsing van mensgemaakte en natuurlike ruimte. As ek dink aan Die Shack, dan dink ek aan die tallose koppietjies groen tee wat Daleen vir ons gemaak het. Ek dink aan Zen, die grys haas wat in die tuin gewoon het en gereeld op my maag kom sit en slaap het. Ek dink aan die ou Remington-tikmasjiene en die beddings waaruit  die mooiste blomme gegroei het. Pennevrug as't ware. Ek dink aan die groot ou boom in die agterplaas waaronder ons menigte middae gesit en debatteer het oor elke denkbare onderwerp onder die son. Ek dink opnuut hoe gepas my vriendin Elzette se beskrywing is, naamlik dat Die Shack ’n plek was where plants and people came to grow between beautiful conversations and rustic revelations.
Male sonder tal het ek, uitgedos met my oorfone en sonbril, in Tomstraat onder die akkerbome deurgeloop met my persoonlike klankbaan, onderweg na Die Shack. Soms was niemand tuis nie, maar ’n mens het die vrymoedigheid gehad om jouself op die rusbank neer te vly en ’n boek te lees. Dit was ’n plek waar daar altyd musiek gespeel het. Ek het The Pixies se album Surfer Rosa vir die eerste keer in Die Shack deurgeluister, en my musikale horisonne was meteens onherroeplik verbreed. Dit was die plek waar ek die blues-kitaarspeler Dan Patlansky ontmoet het. Op aande wanneer my eie huis te ver was om te voet die pad vanaf Bourboun Street aan te durf, was Die Shack daar om ’n lê-plek te bied tot die volgende oggend (Dit was in die donker dae voor ek vir Druiwepit gehad het...).

Ek het al genoeg verlate wonings in my lewe gesien, om te besef dat huise werklik siele het. Sonder mense om in hulle te woon, gaan huise stadig dood. In teenstelling hiermee was Die Shack een van die mees bruisende wonings wat ek ooit die voorreg gehad het om in te kon kuier.  Dit was knus. Warm. Gemoedelik. My eie woonstel was ’n boksie op die tweede vloer van ’n vaal gebou waar ek omring was deur ander eensame mense in eenders beknopte boksies. Ek voel so jammer vir studente wat nooit die geleentheid gaan hê om hulself in plekke soos Die Shack te bevind nie. As ek mooi daaraan dink, besef ek nou dat Die Shack die einste plek was waar die saadjie van liefde vir my aangenome dorp geplant is.

Na my emosionele uitbarsting agter die stuurwiel het ek vir Daleen ’n e-pos gestuur waarin ek die slegte tyding met haar wou deel. Sy het egter reeds geweet, want die netwerk van Shackateers is wyd versprei regoor die land, en nuus versprei vinnig. Sy was, nes ek, baie hartseer oor Die Shack se heengaan. Ons het oor en weer korrespondeer en in die proses herinneringe aan Die Shack agter die sluier van geheue opgehaal. Ek het Daleen bedank omdat ek daardie plekkie destyds met haar kon deel. Waarop sy toe antwoord: “Dit was net 'n plesier, Dane. Dit was 'n gemeenskaplike spasie vir ons ‘tribe’. Al het ek daar gewoon, was dit nie net my spasie nie. Julle het dit gemaak wat dit was.”
Inderdaad.

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.