On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor and Margaret
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Yellow Door

Sotte met Slotte

───   ALBÉ GROBBELAAR 15:44 Mon, 19 May 2014

Sotte met Slotte | News Article

Die idee dat ‘n slot as simbool van twee verliefdes se gevoel vir mekaar kan dien, gee vir Albe Grobbelaar koue rillings. Die mens is nie gemaak om toegesluit te word nie:




‘n Nuusverslag op CNN het pas hierdie vreemde verskynsel die eerste keer onder my aandag gebring. “LOVE LOCKS” noem hulle dit. Waar twee smoorverliefdes, verblind deur die sterre in hulle oë, ‘n slot iewers op ‘n openbare plek aan ‘n reling of kabel vassluit en dan die sleutel weggooi. Dit simboliseer glo hulle ewige, eksklusiewe en onsterflike liefde vir mekaar.

Bekende bakens soos monumente en veral die relings van beroemde brûe is blykbaar baie gewild hiervoor. Gewoonlik sal die twee sotte hulle voorletters op die slotte laat graveer. Of, as hulle arm (en/of haastig) is, sommer net hulle name met permanente merkpenne probeer verewig.



Blykbaar is dit ‘n baie ou gebruik wat reeds sowat ‘n honderd jaar terugdateer na die tyd van die Eerste Wêreldoorlog. In Serwië het daar ‘n onderwyseres, ene Nada, in die dorpie Vrnjacka Banja gewoon, en sy het verlief geraak op ‘n Serwiese offisier genaamd Relja. Kaptein Relja (of dalk was hy maar net ‘n luitenantjie) het sy ewige liefde vir Nada verklaar. Maar toe breek die oorlog uit en hy word opgeroep. Griekeland toe, van alle plekke.

Soos dit nou maar gaan met hierdie dinge, en meer nog so in oorlogstyd (én in Griekeland aan die Middellandse See – dink Shirley Valentine!), was dit gou ‘n geval van uit die oog, uit die hart. Kapt. Relja het hom laat vang deur die valstrik van ‘n voluptueuse, volmaak-gevormde verleidster van die eiland Corfu, en hy het heeltemal van sy verloofde in Serwië vergeet. (Met ‘n naam soos Nada was die skrif waarskynlik vroeg al vir haar aan die muur).

Arme Nada was verpletter en haar hart stukkend. Sy sou nooit herstel nie. Gebroke het sy gekwyn totdat die einde genadiglik gou tot haar redding gekom het.

Op ‘n klein dorpie soos Vrnjacka Banja het almal geweet van Relja se verraad. En die meisies van die dorp het, in ‘n poging om Nada se lot vry te spring, begin om hulle en hul geliefdes se name op slotte aan te bring, en dit dan aan ‘n brug op die dorp te gaan vassluit. Die voetgangerbruggie genaamd Most Ljubavi (wat “Brug van Liefde” beteken), was glo ‘n gereelde bymekaarkomplek van die gedoemde Nada en die ontroue Relja.




Die Most Ljubavi-brug in Vrnjacka Banja (Wikipedia)


En so het ‘n tradisie ontstaan waarvan ek eers laasweek gehoor het, en wat klaarblyklik (om CNN aan te haal) “van Moskou tot in München” besig is om rampafmetings aan te neem. Net in Parys is daar glo al digby ‘n miljoen slotte vasgesluit aan die bekende brûe oor die Seine. Wat beteken dat daar ‘n miljoen sleutels in die water lê, want die tradisie is blykbaar om die sleutel weg te gooi na die seremonie. Alles natuurlik ter bevestiging daarvan dat die liefde so groot is dat “niks ons ooit van mekaar kan losruk nie”.





Die idee van liefde wat “toegesluit” word sodat dit nie kan “ontsnap” nie, is waarskynlik so oud soos die mens self. Voor die Middeleeue al het minnesangers hierdie metafoor ingespan. Die digkuns is vol daarvan. Ek onthou ‘n Duitse gediggie uit my skooldae wat blykbaar in die 12de eeu al in ‘n abdy in Beiere gevind is. Niemand weet wie die digter hiervan was nie. (Dalk ‘n selibaat kluisenaar-kloosterling wat sy foutiewe keuses gekontempleer het?)

Du bist mein, ich bin dein
Des sollst du gewiss sein
Du bist verschlossen
in meinem Herzen
Verloren ist das Schlüsselein
Du musst immer drinne sein

Overgezet synde: Ons behoort aan mekaar, dit sal altyd so wees, jy is TOEGESLUIT in my hart, die SLEUTEL is weg, jy sal vir ewig daarbinne bly.




Vandalisme of romantiek? Ek dink dis niks anders as graffiti nie. Ek het ‘n pak slae gekry wat ek tot vandag toe onthou toe ek toeka op ‘n rotswand met ‘n spyker my en ‘n meisie se voorletters en ‘n hartjie probeer uitkerf het. (Wat was haar naam nou weer?) Gekke en dwase, het my pa gesê.

Die “Love Locks” is besig om wêreldwyd soos ‘n veldbrand te versprei. Lyk my dit het klaar hier na ons toe ook oorgewaai. En die blikskottels (ek wou ‘n sterker woord gebruik) wil tot Madiba se naam daaraan koppel. Ek sien die volgende op die internet: “Mandela Legacy Lock fence in Durban, South Africa. Show your love: Get a padlock, write on it, lock it to the fence.”

Berge val op my. Heuwels bedek my. Die einde is in sig. Gelukkig is Bloemfontein hierdie malligheid nog gespaar. Of dalk nie? Miskien moet iemand ‘n slag weer gaan kyk wat aan die staalpale van die brûe oor die snelweg hang. Daar is niks romanties aan ‘n onverwagse sleutel van bo wat jou voorruit op die N1 versplinter nie!


(Twitter: @albegrobbelaar)

(Bronne: CNN, Wikipedia, Google Images)

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.