On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Yellow Door

Abdullah Ibrahim, net aan ons geleen

───   KARIEN JORDAAN 23:20 Tue, 10 Jun 2014

Abdullah Ibrahim, net aan ons geleen | News Article

'n Lewende legende op 'n Bloemfonteinse verhoog en die samesnoerende krag van die uitvoering het Karien Jordaan onlangs stom gelaat.


"For the first time ever, Abdullah Ibrahim, formerly known as Dollar Brand, ‘visited’ Robben Island. At that stage all music was banned on the island. A lawyer smuggled one of Abdullah's compositions into the control room, blocked the doors and played it over the loud speakers. This would be Nelson Mandela's first sound of music in decades."

In Oktober sal hy 80 wees. Onlangs het ek dié statige man se magic beleef. Eerstehands. Vol in die gesig.
 
Die konsert het laat begin en my westerse-gehoor sinisme het fluks opgebou en was gereed om oor te borrel. ‘n Paar rye stoele voor my was leeg en ek het vermoed ons wag op ‘n aantal BBP’s wie se horlosies op Afrika-tyd gestel is.
 
Uiteindelik het dié stoele leeg gebly en ek sal nooit weet wat die rede vir die vertraging was nie.
 
Die konsertgangers is Bloemfonteiners, maar anders as gewoonlik, onbekend aan my. Drie of vier wit gesigte. Die res van die gehoor het ek nog nooit teëgekom of ‘n konsertsaal mee gedeel nie. ‘n Verskeidenheid mense met ‘n gemeenskaplike doelwit – om die legende, die persoon wat oor die jare met sy musiek hoop gebring en die intrinsieke krag van musiek om mense saam te snoer en brûe te bou, versinnebeeld, te beleef.
 
Die saal sit en wag met ingehoue asem op die Groot Man se aankoms.
 
En dan kom hy stadig van regs oor die verhoog aangestap – effens vooroorgeboë, amper skuifelend, bladmusiek in die hand. Erkennend.
 
Saggies begin hy speel – sy groot hande omvou die akkoorde soos gesonke katedrale, Debussy-agtig. Strelend. Polsend, maar nie gejaagd nie.
 
Die gehoor sit in absolute vervoering, stilgeslaan. Die oningewydes, verstom.
 
Bietjie vir bietjie begin die melodieë bekend deurslaan, maar ‘n mens moet mooi luister – die deuntjies is versteek – soos ‘n wegkruipspeletjie - afhangend van hoe die musiek hom vanaand lei.
 
Dan kom die manne van die VSA by – Ekaya – vier koperblasers, ‘n kontrabas en ‘n drommer. Magic doubled. Elkeen ‘n meesterlike vertolker van Cape Jazz. Van ver oor die water, maar een in die musiek wat hulle saamsnoer. Met die musiek, met mekaar, met hul meester en met hul gehoor.
 
Abdullah is in volkome beheer – sy orkes paraat vir enige gebeurlikheid, enige wending, enige verandering van plan. Sy wysvinger beduie subtiel die rigting wat die musiek moet inslaan. Die ritmes pols, die atmosfeer bly gelade. Tussen nommers word daar nie op applous gewag nie – die musiek stu net voort.
 
Reeds teen die einde van die eerste helfte spring die gehoor soos een man op vir ‘n staande ovasie.
 
In die tweede deel van die program sorg Mannenberg vir ‘n absolute ontploffing in die gehoor. Rondom my kan ek aanvoel hoe breë glimlagte deurbreek. Vir elkeen beteken dié nie-amptelike SA-volkslied iets persoonliks – dit bring ‘n stukkie terug van die struggle en die oorwinning oor apartheid. Mannenberg raak die gom waarmee vanaand se konsertgangers, soos ‘n reuse organisme, saampols. Die voortstuwende vierslagmaat word die swaar grootwordjare, die vervulde en onvervulde drome.
 
Cape Town Flower, Blue Bolero, Chisa. Die byna orgasmiese oo’s en aa’s plof soos springmielies uit die stoele. O, hierdie is ’n bederf uit die boonste rakke. Agter my fluit ‘n man saam, langs my sit ‘n vrou met ‘n groot glimlag en wieg terwyl die musiek haar mede-reisigers hipnotiseer.
 
Ek wonder of Adolph Johannes Brand as ‘n jong man op die Kaapse Vlakte geweet het dat hy eendag met sy musiek so ‘n sintese sou meebring.
 
Madiba se benadrukking van sport as ‘n universele krag om mense by mekaar te bring was beredeneerd. Ek sou egter graag aan Abdullah wou vra of hy ooit gedink het sy musiek sou dieselfde magiese uitwerking hê en of dit maar net ‘n kwessie was van deuntjies en akkoorde wat in sy kop draal, wat moes uit.
 
Twitter:  @kopereend 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.