On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Yellow Door

Die moets en moenies van 4X4 in Swaziland

───   DANE BEISHEIM 15:57 Tue, 29 Jul 2014

Die moets en moenies van 4X4 in Swaziland | News Article

Dane Beisheim is op 'n 4X4 voertuig deur Swaziland en het 'n hele paar lesse en ervaringe tot sy lewe toegevoeg. Alles van die doane, paaie vol kinders opsoek na lekkergoed tot die waarde van oplettenheid raak hy op 'n humoristiese wyse aan.


 
Gerhard en Dane in Swaziland
 
 
Ek het onlangs die geleentheid gehad om saam met een van my beste pelle op ’n 4x4-ekskursie te gaan na Swaziland. Aangesien ek nog nooit voorheen die land besoek het nie, het ek besluit dat dit ’n interessante en leersame ervaring sou wees. So was dit ook toe. Ek het egter ’n hele paar ander dinge wyser geraak in die proses as wat ek verwag het. Dinge soos:

Die grenspos is nie só pateties soos almal dit uitmaak nie

Voordat ek saam my pel Gerhard vertrek het, het ek die fout gemaak om vir een of twee naaste familielede en vriende van my onderneming om Swaziland te besoek, te vertel. Spoedig is daar vanuit alle oorde op my kop gedinges oor hoe gevaarlik dit sou wees en hoe korrupte doanebeamptes my kaal sou uittrek en in die wildernis sou instuur om rou deur die plaaslike bevolking verorber te word.

Ek is aangeraai om ekstra kontant te neem as omkoopgeld, sowel as ’n blikkie Coke of twee om nors beamptes mee te paai in ruil vir toegang tot hul land. Dalk het ons dit gelukkig getref, maar geen sulke drastiese optrede was nodig nie. Korrupte beamptes wat nie hulle werk behoorlik doen nie was daar wel, maar ons moes nie meer as die standaard-R50-padbelasting betaal nie. Niemand het egter ondersoek ingestel of ons met die kar ry wat ons gesê het ons doen nie (’n enig-in- sy-soort gemodifiseerde GWM H5), en of ons wapens of ander derglike goedere oor die grens smokkel nie.

Wees ook gewaarsku: Indien daar enigsins op aarde die vergestalting van die chaos-teorie bestaan, dan is dit die Oshoek-grenspos tussen Suid-Afrika en Swaziland. Daar is geen indikasie van waar jy moet gaan of watter dokumente jy benodig nie en dus sal die persoon wat sy eerste besoek daar aflê, so deurmekaar soos ’n honger baba in Teasers wees. Daar is ook nie so ding soos rye nie; eerder ’n maalkolk van liggame wat saamdrom soos vlieë op ’n vars miskoek (Iets wat jy baie van gaan sien in die strate van Mbabane). Maar ten spyte van die hewig ongeorganiseerde aard van hoe dinge geskied by Oshoek, is ons nie te lank na ons arriveer het deur die grens nie.

Jou groep moet nie te groot wees nie

Op hierdie betrokke ekspedisie deur die bergagtige gedeeltes van Swaziland was daar om en by 25 karre betrokke. Alhoewel dit dalk soos ’n goeie idee klink om in ’n groot groep so ’n trip aan te pak, veral in geval iemand sou vassit met ‘n voertuig of hulp benodig, het dit bitter gou duidelik geword dat dit net té groot was. Om elke tweede hoek en draai het een of ander arme nar verdwaald geraak soos ’n peuter in Checkers wat sy ma se hand gelos het, en het hul weemoedige klaagliedere oor die radio (waarmee elke kar toegerus was ) weerklink.

Gevolglik moes die hele konvooi elke keer stop sodat die ‘agterlike’ sotte die pad kon vind en ons inhaal. Dit het ’n verskriklike oponthoud veroorsaak en gevolglik het ons op die eerste dag slegs 105km in agt ure afgelê. Die les hier uit te leer is dus: Moenie dáái ou wees wat nie oplet nie, die verkeerde afdraai vat, oor ’n krans bliksem, en al die ander mense in die proses net irriteer nie. Hou die ou voor jou altyd in die oog, en indien jy die pad byster raak, ry terug en kyk uit vir vars spore voor jy op die radio klim en kerm soos ’n vet meisie by die local Virgin- gimnasium. Jy sal genadeloos deur jou makkers gespot word.

Let op wat voor jou in die pad aangaan

Op enige gegewe oomblik is daar rofweg 6 500 onverskrokke Swazi- kinders in die pad wat nie omgee dat jy op hulle afpeil met ’n metaalmonster ter waarde van R500 000 nie. Jy sál te vinnig om ’n draai gaan en jy sál amper die hele kinderbevolking van die plaaslike nedersetting uitwis. En ons praat nou nie hier van geteerde paaie naby enige vorm van beskawing waar jy kinders te wagte sou wees nie. Verreweg die meeste kinders wat amper onder ons BF Goodrich-tyres dood is, was besig om in die berge rond te kerjakker, waar ons ingevoerde voertuie nodig gehad het om net oor die weg te kom.

Net so terloops, dit blyk ook dat al wat jy nodig het om te off-road in Swaziland ’n stokou Toyota Conquest is. Male sonder tal het ons heel selfvoldaan kranse oorkruis net om ’n local in ’n Conquest aan die ander kant te gewaar. Dit sê nogal iets van die Japannese motorreus se hoë standaarde dink ek, en versterk net my vermoede dat jy een ton plofstof nodig het om van ’n Toyota ontslae te raak. (As ’n trotse Tazz-eienaar, bieg ek dat daardie sin effe subjektief is.)

Die vermoede het ook by my ontstaan dat alle bokke in Swaziland ‘vervaardig’ en later versend word na al die uithoeke van die wêreld. Die rede hiervoor is dat benewens die hordes kinders, daar ook miljoene bokke oral is, wat besluit het dat stofpaaie waar karre moet ry die beste plek is om te konvergeer. Aan wie hierdie bokke behoort weet nugter alleen. Dalk miskien die koning, maar ek sou nie waag om te raai nie (meer hieroor so binnekort). Al wat ek weet is daar ’n nimmereindigende hoeveelheid van die goed is en dat hulle (indien moontlik) selfs minder as ’n dooie duit vir jou teenwoordigheid in hulle omgewing voel as die kinders wat so doodluiters oral te bespied is.

Moet nie die kinders sweets gee nie.

Bogenoemde kinders sal jou kar bestorm en in sonderlinge gevalle heel gewelddadig aandring daarop dat jy vir hulle sweeties gee. Jy sal vir hulle sweeties wíl gee want jy is nie ’n hartelose poephol nie. Boonop sal jy bes moontlik gevul wees met skuldgevoelens omdat jy deur hulle land toer in ’n kar wat meer kos as wat al hulle pa’s saam in hulle lewe sal verdien. Dus sal die behoefte om daai ekstra pakkie sout-en-asyn Simba-tjippies op die agtersitplek uit te deel baie groot wees.

Maar kinders in Swaziland, en meeste ander plekke in Afrika, se verteringstelsels is nie gewoond daaraan om dié tipe geprosesseerde suikerbelaaide gemorskos wat ons so gereeld eet, te verteer nie. Dít deel Gerhard my gelukkig mee voordat ek enige van die plaaslike kinders ’n Crunchie kon gee. Sou jy wel ten spyte van hierdie waarskuwing uit die goedheid van jou hart besluit om vir een van die outjies ’n sweetie of twee te gee, kan jy salig vannaand slaap, veilig in die wete dat jy die kind gippo guts gegee het. En in ’n land waar die naaste kliniek ’n dagreis ver is, wil jy nie verantwoordelik vir ’n diarree- uitbraak wees nie.

Boonop is dit gewaarborg dat jy nie genoeg lekkers vir die kroos sal hê nie en is dit hoogs waarskynlik dat daar vuis geslaan gaan word vir daardie laaste Fizzer. Voor jy jou oë kan uitvee, sit jy met ’n werklike en veel meer letterlike Hunger Games op hande, en dan word jy summier uit die land geskop vir aanhitsing tot jeuggeweld. Dis net beter vir almal betrokke dat jy nie sweets vir die kinders gee nie, glo my!

Moet nie bog van die koning praat nie

So vra een van die mense in die groep oor die radio vir ons gids om ons meer van die koning te vertel. Na ’n paar ongemaklike sekondes van stilte word ons toe meegedeel dat dit nie veilig is om sulke praatjies oor ’n oop lyn te voer nie. Die rede hiervoor? Omdat Mswati III se regime van marteling asook blatante diskriminasie teen verskeie groepe beskuldig word. Sy regering het beperkte vryheid van spraak en assosiasie en teister blykbaar gereeld aktiviste en joernaliste.

As ons groepslid enigsins geweet het hoe die internet werk sou hy vooraf kon bepaal het dat dit is ’n slegte idee is om die koning in sy eie land te beskinder. Hierdie is ’n ou wie se regering in die 2014 nasionale begroting $61.miljoen toegeken het vir sy jaarlikse huishoudelike begroting, terwyl 63% van ALLE Swazi's leef op minder as $ 1,25 per dag. Hierdie is ’n ou wat glo so onlangs soos die jaar 2000 voorgestel het dat mense wat MIV-positief is, gebrandmerk en gesteriliseer moet word. Hy is ook die ou wat blykaar ’n girl ontvoer het en haar sy vrou gemaak het. Dus; jy praat nie kak van hom in sy eie land nie, want jy weet nooit wie luister jou af nie...

Weet dat Swaziland jou hart sal steel

Nes met soveel ander lande op die kontinent (ons eie inkluis), sal jy stomgeslaan wees deur die natuurlike skoonheid van die land. Asemrowende rotsformasies, watervalle, pragtige grasvelde en rotstekeninge deur die vroeë bewoners van die streek is net n paar van die besienswaardighede waarna jy kan uitsien.

Vir die 4x4-entoesias is dit een groot speelgrond. Maak net seker om ’n bedrewe gids saam te neem. ’n Kar met low range is ’n moet. Een met ’n diff-lock des te beter. Die mense is, ten spyte van hoe hiper-sleg dit met hulle gaan weens al die sosio-politieke en ekonomiese probleme wat hulle daagliks in die gesig staar, vriendelik en tegemoetkomend. Wanneer jy boonop sulke ekskursies meemaak saam met jou naaste pelle, dan kan jy nie anders as om ’n great tyd te hê nie. Nodeloos om te sê sal Swaziland my vir seker in die toekoms weer sien.

NS. Die van julle wat gereelde lesers van my blog is, sou dalk twee en twee bymekaargesit het en kon uitgepluis dat die Gerhard in hierdie storie dieselfde Gerhard van my vorige bloginskrywing “Ope brief aan my vriend se ongebore seun”, is. Sy seuntjie Abri het sederdien sy verskyning in die wêreld gemaak as ’n gesonde blouoog-baba van 3, 4kg by geboorte, en is sy pa en ma Febe, se oogappel.
 
 
 
 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.