On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Anny
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Yellow Door

Teetuintraktaatjies

───   ELZETTE BOUCHER 00:00 Tue, 05 Aug 2014

Teetuintraktaatjies | News Article

Mens sien dit orals. Klein bordjies met ‘filosofiese’ geskrifte op wat poog om klante by ’n teetuin of koffiewinkel te inspireer. Een van hierdie teetuintraktaatjies laat Elzette Boucher egter met ’n bitter smaak…



“When you eat alone, you choke alone,” lui ’n sêding op die spyskaart van die koffiewinkel. “Regtig?! Dis bietjie ekstreem,” dink ek terwyl my Sondagmiddag lunch date my op die ligging van die betrokke ‘gesegde’ attent maak.
Ek eet darem nie alleen nie. Wel, nie vandag nie. Meeste dae. Dis heel normaal vir my. Ek bly alleen, het nie eens ’n kat nie. En dis my keuse.
 
“Ek het iemand ontmoet,” is ’n sin wat my moeder straks ooit weer sal hoor. My romanse en die rotse is konstant op ’n collision course. So het dit dan ook ná meer as tien jaar van hubare ouderdom wees, nie uitgewerk nie.
Daarom voel ek al meer geaffronteer deur terme soos ‘op die rak’, ‘oujongnooi’ en dalk ’n minder bekende een – ‘vrygesellin’. Ek hou nogal van laasgenoemde, maar dit word as neerhalend beskou. Dalk die gesellin gedeelte…
Ons is van kleins af bang gepraat vir alleen wees. Mens kan ongelukkig wees, maar om hemelsnaam net nie alleen. Daar is nie ’n erger ellende nie. Ons kan in vernietigende verhoudings wees, maar net nie alleen nie.
 
Dikwels in ‘beskaafde’ geselskap word ’n vrou se waarde gemeet aan die man wat sy ‘gevang’ het en die aantal stoet suigelinge wat sy gebaar het. Daar word ook onderlangs gekyk na die enkellopendes en stywer aan die mans gehang, want hulle gaan mos in die kloue van dié met die losse sedes beland.
Ja, ons mag dalk buite by die mans om die braaivleisvuur politics praat, want hulle wil vir ’n oomblik escape van die nappies en die carpool en ons het nog nie nappies en carpools nie.
 
Vandag is ek diep moedeloos vir ’n samelewing wat ’n mens se waarde ag op hul relationship status. Mens sou hoop ons is al bietjie meer gevorder as dit, maar helaas.
 
Dalk lê een van die oorsake in ons woordeskat.
Ná ’n Wikipedia-soektog blyk dit die betekenis van oujongnooi is as volg: ’n vrou wat nog nooit getrou het nie, nie kinders het nie en menopouse bereik. Veertig is ook blykbaar die ouderdom waarop mens dan nou volwaardig op die rak is.
Daar word egter melding gemaak dat die term neerhalend is, so mens moet dit liefs nie gebruik nie. Al work dit dan nou dikwels in ‘beskaafde’ geselskap gebruik.
Een van my kollegas vertel my onlangs dat hy nie dink dis sy doel op aarde om voort te plant nie, en dat hy geskape is vir ’n ander doel.
 
Dis nie die eerste persoon wat my dit vertel nie. ’n Baie suksesvolle sakevrou van China het my ook een keer vertel dat sy nie verder tot die wêreldbevolking wil bydrae nie. Sy voel nie daartoe geroep nie.
Ek wil self so ver gaan om te sê dat die Bybel wel sê vermeerder, maar ook dat almal nie kan trou nie. En dis oraait….
Deur die geskiedenis is daar tientalle toonaangewende vroue wat nooit tot trou gekom het nie omdat hulle tot ander dinge verbind was
.
Dink maar aan Koningin Elizabeth die Eerste, skrywer Jane Austin, die moeder van modern verpleegkunde Florence Nightingale, ontwerper Coco Chanel en aktivis Emily Hobhouse.
Hierdie vroue het die geskiedenis verander en sou dit waarskynlik nie kon vermag as hulle vir man en kroos moes sorg nie.
 
Trou is nie vir almal nie en as jy ongetroud is, beteken dit nie dat jy ’n saai bestaan voer nie. Dis dalk net nie vir jou nie. Dis nie jou doel nie, nie jou journey nie.
In hierdie traktaatjie lê dalk die wortel van die kwaad: “To love is nothing… To be loved is something… To love and be loved in return, is everything…”
 
En nou’s dit al by ons DNS ingeprent dat dit nie cool is om op jouself aangewese te wees nie.
So wat ek nou eintlik wil oordra… Leef, moenie bestaan nie. Deel daardie lewe met ’n lewensmaat of met ander in jou lewe. Gee terug aan die samelewing. Beywer jou vir jou cause en moet nooit onvoldoende voel nie.
 
Onthou die ‘wyshede’ op die teentuinborde is net teetuintraktaatjies.

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.