On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Yellow Door

Skrik rond

───   ELZETTE BOUCHER 00:00 Thu, 07 Aug 2014

Skrik rond | News Article

As die pers ons daagliks met ellende konfronteer is dit maklik om weg te kyk, om te blaai en te vergeet. Ons skrik rond en kla oor die land wat agteruit gaan en dan bly ons net weer stil. Ons het egter ’n verantwoordelikheid om deel van die oplossing te wees. Elzette Boucher gooi kluite na ‘kopverloorders’…


Die ligte is gedemp, daar’s ’n amper onheilspellende stilte. Op die verhoog staan aktrise Crystal-Donna Roberts in wit geklee met arms uitgestrek, amper soos ’n engel, op ’n stapel papiervliegtuigies. Shaleen Surtie-Richards wandel voor haar oor die verhoog en laat val ’n kwinkslag om die ongemaklike stilte te breek.
 
Terwyl ek by die Vryfees sit en kyk na Hennie van Greunen se drama Rondomskrik, gebeur daar ’n afgryslike tragedie met ’n gesin van Boksburg.
Hoe ironies. Terwyl iemand poog om die land se afgryslike dade teen vroue en kinders aan te spreek, gebeur daar die ondenkbare. Kapers sleep ’n kleuter na sy dood toe hy in die sitplekgordel van sy karstoeltjie verstrengel was.
Ina Bonnette, Anene Booysen, Reeva Steenkamp, Lihle Hlanjwa en Teagrin Morris.
 
Die vrou wie se eks haar “’n les geleer het” deur haar verkragting te reël, die skoolmeisie wat vir dood agter gelaat is, die model wat deur haar kêrel doodgeskiet is, die dogtertjie wat aan die brand gesteek is en die seuntjie vir wie die misdadigers dood eenvoudig nie wou stop nie.
 
Waarom haat ons mekaar so? Veral die kwesbaarstes, vroue en kinders. Het ons nie meer harte nie? Of is dit net werklik die bose. Of het ons dalk die bose ingelaat?
 
Dis elke dag in die koerante – nog ’n grusame kinderverkragting, nog ’n sinnelose moord. Ons skud ons kop en blaai liefs om.
Maar ons sal briewe skryf en petisies teken teen naamsveranderinge. Ons sal opruk en vergaderings reël as ons alma mater besluit weg te doen met ’n geykte apartheidsrelik. Ons sal veg vir wat ons toekom, ons sal baklei vir wat ons sin is. Onsin...
 
DIT MAAK MY NAAR.
 
Unfriend my op Facebook, noem my ’n “h..rt..f”, wens my ongebore kinders dood… maar vandag sal ek my vinger swaai.
 
Ons kan nie aanhou wegkyk nie. Ons moet soos Hennie se karakters in Rondomskrik begin ‘uitkyk’.
Kinders word sonder ouers groot. Hulle sê dit vat ’n village om ’n kind groot te kry, maar ons is nie meer bereid om die village te wees nie.
 
En ek gil nie vanuit my righteous toring nie, ek’s self skuldig. Ek’t ’n kind in Korea ‘gelos’ wat ek weet houe met ’n belt vat ter beskerming van haar jonger sibbe. Sy’t verskeie kere met buckle merke op haar lyfie opgedaag. Ek’t dit aan die skoolhoof rapporteer, maar ek twyfel of dit enigsins gehelp het…
 
Om terug te kom op eie bodem… Ek praat nou nie van handouts nie, ek praat van handups. En onthou, party mense weet nie van beter nie. Dis jou plig as mens om te help.
 
Kom ons wees uitkyk anties en ooms vir ons kinders. En dis nie net ons eies nie, dis alle kinders met wie ons in aanraking kom. Jy maak dalk net die nodige verskil in daardie kind se lewe maak.
 
’n Kollega van my meen, “Waar daar asem is, is hoop”. Ek hoop van harte dis waar. Dan kan ons dalk nog ’n verskil maak. Dalk is dit nie te laat nie. Dalk het ons nog ’n kans om ons land van algehele harteloosheid te red.
Hou op uitkyk vir number one. Kyk uit vir ander. Hou op wegkyk. Kyk waar jy ’n verskil kan maak. Wees jy die een wat stop en help en nie net bo-oor donner soos die res nie.
 
Dan, dalk dan, sal ons ophou rondskrik as hierdie aaklige dinge gebeur en sal ons dalk wakker skrik.

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.