On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Yellow Door

Sleutelgatkinders

───   KARIEN JORDAAN 20:53 Sat, 20 Sep 2014

Sleutelgatkinders | News Article

Die dilemma van die moderne ouer-kind-dinamiek is vir Karien Jordaan op ‘n manier erger as die destydse sleutelgatkinders.

Toe my eie kinders klein was, was die grootste sonde wat ‘n ouer in my opinie kon pleeg, om kinders ná skool, alleen, sonder volwasse toesig, by die huis te laat bly. Om sleutelgatkinders aan ‘hul eie lot’ oor te laat, was vir my onvergeeflike gedrag. In baie gevalle was daar waarskynlik geen ander uitweg nie, dit besef ek. Maar die denkbeeldige prentjie van ‘n kind wat die sleutel aan ‘n toutjie om die nek afhaal en by die kombuisdeur inglip, het my hare egter laat regop staan.

Ek het my die vreeslikste scenarios ingedink van kinders wat alleen, verveeld en bang hulself in die slaapkamer toesluit. Of van groter kinders wat in die drankkabinet inklim en rook dat die blou dampe staan en allerhande onheilighede met ander sleutelgatkinders aanvang. Soms het ek my verbeel daar breek ‘n brand uit en die kinders kan nie betyds uitkom nie. Die dinge waaroor ‘n mens jou darem bekommer, wel wetend dat jy net mooi niks daaromtrent kan doen nie.

Daar is seker ‘n saak uit te maak dat dié kinders dikwels baie selfstandig anderkant uitgekom het, maar vir my was dit net plein hartseer.

In baie moderne, stedelike Suid-Afrikaanse huise is dit nie net sleutelgatkinders wat aan ‘hul eie lot’ oorgelaat word nie. Daar is kinderoppassers, maar dié se naam is deesdae dikwels iPad.

‘n Kennis vertel nou die dag hoe die ‘lang ure op kantoor’ haar ‘klaar maak’. Wanneer sy laatmiddag by die huis in sleep, kyk haar tweejarige seuntjie nie eens van sy iPad op nie. Dit stem haar so hartseer…maar dan kry sy ‘darem kans om gou die aandete gereed te kry’. ‘n Tweejarige kind kyk nie op as hy sy ma sien nie.

“Berge val op my”, wou ek uitroep. ALLES omtrent Kennis se ‘dilemma’ is boos en net so verkeerd.
 
Ook die feit dat sy nog nooit langs die veld was wanneer haar ouer seuntjie aan sport deelneem nie (volgens ‘n studie is sy saam met 30% van alle SA-ouers skuldig); uiteraard nooit die outjie na die sportveld neem nie (een van 50%) en nooit self met hom bal skop, aan-aan speel of met ‘n raket van watter aard ookal slaan nie (een van 32%). Saterdae ry Kennis rond en loop van winkel tot winkel en koop die duurste klere en items om bas en huis te verfraai. O ja!

Die 2014 Healthy Active Kids South Africa-verslag het pas verskyn. Daarin word gesê dat Suid-Afrikaanse kinders daagliks ure voor skerms, klein en groot deurbring , en hoogstens die helfte van hulle aktief is. ‘n Oogarts sê nou die dag ‘n skrikwekkende aantal kinders is voor hul skool toe gaan reeds bysiende, oor die iPads en ander skerms wat hul totale kindwees oorheers. Wêreldwyd is die aanbeveling dat kinders jonger as twee jaar geen blootstelling aan TV/elektroniese apparaat moet hê nie, en kinders tussen twee en vyf jaar beperk word tot hoogstens twee uur per dag opvoedkundige programme, hetsy op TV, rekenaar of iPad.

Die verslag dui ook aan dat kinders elke dag ’n uur se matige tot strawwe oefening moet kry, maar in Suid-Afrika is dit tans net sowat 20 minute. Suid-Afrikaanse kinders is te vet, en eet tot drie keer per week kitskos.

Terloops, Suid-Afrika is as die vrotste appel uitgewys toe hy ‘n wêreldrekord opgestel het deur 30 Mc Donald’s-restaurante in 23 maande te open.

Tog verkoop Lego steeds soos soetkoek. In 2012 is daar 45,7 miljard blokkies vervaardig. Dié blokkies sal meer as 18 keer om die aardbol strek, sou jy hulle langs mekaar neerlê. Moontlik het vandag se sleutelgatkinders bokse vol Lego maar speel nie juis daarmee nie?

Ek wens dikwels die ‘my kind kyk nie eens van sy iPad op nie’-ouers koop liewer ‘n voorbehoedpil en Lego-mannetjies om mee te speel. Dié kan hulle ten minste in ‘n kas wegpak wanneer die loopbaan-wat-geen-ure-ken-nie, in die pad kom.
 
Volg Karien op Twitter :  @kopereend

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.