On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Yellow Door

Vrede op aarde (en in Suid-Afrika)

───   ELZETTE BOUCHER 13:43 Thu, 18 Dec 2014

Vrede op aarde (en in Suid-Afrika) | News Article

Elzette Boucher is effe ontsteld dat ons (Suid-Afrika) kort voor die feesseisoen ’n dag van versoening met verdeeldheid vier.

Die lewe is ’n proses van vrede maak, met wie jy is en wat jy kan vermag.
Vrede is nie oorgee nie; vrede is berusting met dit wat volbring is. Vrede is ’n reis; nie ’n bestemming nie. Dis hoe jy goed aanpak. Soos nou onlangs met Versoeningsdag.
 
16 Desember word beskryf op Wikipedia as ’n dag wat vir beide die Afrikaner en Afrika kulture betekenis inhou weens Geloftedag en die totstandkoming van Umkhonto we Sizwe. (Dis wat Wikipedia seg, ek weet die betekenis is egter veel dieper as dit.)
 
Ek wil egter nie politiek en geloof praat nie. Ek wil teem oor nog ’n openbare vakansiedag wat met edele bedoelings daargestel is, maar toe uitgeloop het op net nog ’n leë gebaar.
 
Ironies genoeg word die dag Versoeningsdag genoem. Sommige trek laer by die Voortrekkermonument en ander trek af na Bloedrivier. Ek sien nie hoe enige versoening ooit so gaan plaasvind nie.
 
My voorstel: kom ons drop die 16de Desember as openbare vakansiedag en verskuif dit na ’n ander datum. Dan kan diegene wat nog werklik wil verdeel dit op hulle eie tyd doen. Dit sal ook dan groter commitment verg om die dag te gedenk as dit dan nou werklik iets is waaroor jy sterk voel.
 
Ek vermoed die enigste versoening wat met hierdie vakansiedag plaasgevind het, is dat die datum behou is na 1994.
Dit laat my egter met ’n wrang smaak aangesien hierdie dag van versoening dan klaarblyklik een van verdeeldheid geword het.
 
Is ons dan nie veronderstel om op hierdie dag te probeer heelmaak nie? Die klowe word egter dieper gegrawe met politici wat speel op gevoelens om stemme te wen.
 
Dit was oorlog. Wie was nou regtig reg en wie was nou regtig verkeerd, gemeet aan die lyding wat daar op alle fronte was?
Versoening gaan ook nie daaroor om die verlede te ignoreer nie. Dis immers iets waarvan ons moet leer. Dis ook dalk dáár waar die wortel van die kwaad lê. Weet ons die werklike geskiedenis en wat word vir die nageslag geleer?
 
Wat egter die belangrikste is om te onthou en dit sal ook die meeste van ons verg, is dat ons moet erken dat ons mekaar seergemaak het en dat ons aanhou om mekaar te verniel. Net as ons mekaar se lyding kan erken kan daar versoening wees.
 
Dalk moet die dag eerder herdoop word. Dalk nasionale ‘Jammer-sê-dag’. Dan kan die regeringsentiteite ook sommer kom bieg oor die gebrek aan kapasiteit.
 
Dis nou te laat om die gees van versoening te laat seëvier vir 16 Desember, maar daar is nog ’n belangrike vakansiedag – 25 Desember.
 
Of jy nou Kersfees vier of nie, dis nog ’n openbare vakansiedag in Suid-Afrika – dis nog ’n kans om versoening aan te pak.
 
Onthou vrede berus in die klein gebare. Hoe jy dinge aanpak. Moenie gil op die girl by die till omdat sy jou nie in Afrikaans kan bedien nie. Sy’s dalk ’n student van Limpopo wat casual oor die vakansie omdat daar nie geld is vir haar om by die huis uit te kom nie. (Ek noem hierdie voorbeeld, want ek’t dit verlede Desember in ’n winkel in Bloemfontein ervaar.)
 
Hierdie feesseisoen, aanvaar dat almal sukkel en dat dit waarskynlik nie hul verdiende loon is nie. Klim van jou troontjie af en kyk jou naastes in die oë en probeer verstaan waardeur hulle gaan. Moenie afkyk op hulle nie. Dalk as jy luister en probeer verstaan sal jy dalk selfs opkyk na die mense met wie jy die land deel.
 
Vrede op aarde vir jou en vir Suid-Afrika.

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.