On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Yellow Door

Liewers Dood as uit die Mode

───   ELZETTE BOUCHER 12:26 Thu, 17 Nov 2011

Liewers Dood as uit die Mode | News Article

Modegiere, veral onder die jeug, gee mens dikwels gryshare - stewels in die somer, wat wou?! Elzette Boucher gaan krap 'n bietjie in die klerekas.

Dis mos weer somer. En, sover, ‘n verstikkende droë somer in die Vrystaat. Desondanks, sien ek daagliks tienermeisies in kort rompies en donserige stewels paradeer. Ek weet ek ly aan ‘n voortydige bejaardheid, maar ek’s oortuig daarvan dat mens minstens ooptoon skoentjies in die hitte dra – nie winter staatmakers nie.

Daar kan net een redelike verduideliking vir die bogenoemde gedrag wees – dis sweerlik die nuutste modegier onder die tweens.

Op my dag het ons plastiek sandale gedra wat ook maar nie té gemaklik in die somermaande was nie. Wie onthou Bubblegummers? Het hulle as ‘n kleuter gedra en weer op laerskool. Shame, het ok maar nie van beter geweet nie. En die arme ouers moes maar net keer op keer opdok vir wat die maatjies dan almal het.

O, en dan my grootste fashion verleentheid: daardie lappies met die veterstrêppies, kan nie glo ek het dit so skaamteloos gedra nie. Ek kan ook nie glo ek het ooit daarin gepas of dat ek soveel guts gehad het nie. Dit wys mens maar net weer die mag van die massa. As almal dit dra…

Ek gaan glad nie oor die Crocs uitwei nie, want dié goedjies het heeltemal ‘n lewe van hul eie aangeneem.

Elke generasie en seisoen het blykbaar sy eie unieke modegier.

Soos byvoorbeeld die jongste mans-haarstyle. Goeie genugtig! Asof Movember nie onbekoorlik genoeg is nie, kweek die jong osse ruigtes waarin verskeie ongediertes gemaklik kan nes skrop. Nee, o krisis, bring die skaapskêr; of nog beter, bring die Weed Eater.

Dit help ook nie dat die outjies lyk of hulle weke laas gebad het nie. Mens sou nooit dink dat in die nuwe millennium dít die mode sou wees nie. ‘n Mens sou eerder verwag dat almal super skoon sou wees soos in die kliniese futuristiese flieks. Nou lyk dit eerder soos ‘n post-apokoliptiese fliek.

Ek hoop ook van harte dat die super-kort broekies nie weer volgende seisoen hul opwagting gaan maak nie. Daar is slegs geringe geseëndes onder die wêreldbevolking wat dié eina kledingstukkies kan dra, maar ongeluk besef almal dit nie en moet ons ander onder die visuele besoedeling ly.

Die groot verskeidenheid katpakkies is ook vir vele wane verantwoordelik en moes liefs nie ‘n comeback gemaak het nie.

Praat van comebacks, ek het hierdie seisoen ‘n hele paar treffers uit die argiewe gaan grawe – hou die waansin dan nooit op nie!

Dan my gunsteling, hemelhoë hakke. Nie dat ek veel teen hoë hakke het nie, net wanneer dit hoogmode is en mens deur troppe wankelendes in winkelsentrums gestormloop word.

Ek was gelukkig met dié dat ek so ‘n bietjie in die noordelike halfrond vertoef het. Met my terugkoms was ek so ‘n bietjie “voor” met die modes en het ek geweet wat om te verwag en was my klerekas darem vir twee seisoene sorted. Nou is ek maar weer “agter” met die modes soos die res van die suidelike halfrond en word ek daagliks met onsinnigheid gekonfronteer.

Ja-nee, liewers dood as uit die mode lui die spreekwoord. En so volg ons maar die modes slaafs na.

Ek wonder dikwels of dit nie ‘n komplot van die mode-mafia is nie. Hulle dink iets belaglik uit om te sien hoeveel aanklank dit by die res van die wêreld vind tot hul groot vermaak.

Maar wag, dat ek die nuutste modetydskrifte gaan aanskaf voor ek uit die mode is.

 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.