On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Africa News

TLU: Plaasmoorde in Suid-Afrika neem toe

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 09:21 Fri, 01 Jul 2016

TLU: Plaasmoorde in Suid-Afrika neem toe | News Article
Gallo Images

Johannesburg - Die aantal moorde op plase en kleinhoewes in Suid-Afrika het sedert 2011 toegeneem.

Dít is ‘n groot bron van kommer vir die Transvaalse Landbou-unie (TLU), wat na verwagting volgende week in Pretoria sy syfers vir plaasmoorde en –aanvalle van Januarie tot Junie vanjaar bekend gaan maak. 

Dié organisasie se assistent-hoofbestuurder vir beleidskakeling, Chris van Zyl, sê hul statistiek toon 48 moorde is oor die land heen in 2011 op plase en hoewes gepleeg. 

Die syfer het daarna ‘n jaarlikse toename, wat wissel tussen drie en ses aanvalle per jaar, getoon.  Volgens hom is 64 mense verlede jaar vermoor, met 39 moorde tot dusver vanjaar. 

Van Zyl sê die nuuste syfer dui daarop dat daar vanjaar 12 moorde meer as verlede jaar dieselfde tyd gepleeg is.  

“Ek noem nou spesifiek die moordsyfer omdat dit die belangrikste bevestigde barometer is wat ek het om die tendens te bepaal. Ander voorvalle op plase en kleinhoewes word ook in TLU SA se databasis ingesluit, maar nie alle voorvalle word noodwendig deur sy lede gerapporteer nie en kom nie altyd in die media voor nie. Dié organisasie werk ook nou saam met AfriForum in dié verband," sê hy.  

Van Zyl sê die toename in plaasmoorde is angswekkend,  maar die groot verskil tussen die gewelddadigheid van ‘n aanval teenoor die ooglopende motief daarvan is onverstaanbaar. Hy wil weet waarom aanvallers, wat daarop uit is om te roof, slagoffers martel en wreed vermoor. 

Van Zyl sê TLU SA was genoop om sy eie syfers oor plaasmoorde en –aanvalle in te samel, nadat die polisie in 2006 nie meer in die nasionale kommissaris se jaarverslag oor misdaad in die land voorsiening gemaak het vir hierdie syfers nie. 

Dit is juis daarom belangrik om dié inligting saam te vat sodat tendense van onder meer aanvalle en die geografiese patrone wat deur booswigte gevolg word, vergelyk kan word. 

Die Instituut vir Sekerheidstudies se Johan Burger gaan volgende week op die bekendstellingsgeleentheid praat oor die onstuimigheid in die land en die  invloed daarvan op die landboubedryf. 

AfriForum se Nantes Kelder sal die noodsaaklikheid van slagofferondersteuning bespreek en ook praat oor die samewerking wat daar tussen AfriForum en TLU SA is. ’n Slagoffer van ‘n plaasaanval, wat daarna traumaberading ontvang het, Attie du Toit, gaan ook sy ervaring deel.  

TLU SA se syfers vir moorde op plase en hoewes is as volg:

2011 – 48

2012 – 53

2013 – 59

2014 – 61

2015 – 64

2016 – 39 (Januarie tot Junie))  


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.