Click on the warning image to view this post
Click on the warning image to view this post
Click on the warning image to view this post
agri fokus
NIE VIR SENSITIEWE LESERS: Landbouers keelvol vir barbaarse veediefstal─── 16:31 Wed, 29 Jul 2015
‘n Landbouer van Steynsrus was gisteraand vir die tweede keer in sowat ’n maand ’n slagoffer van wrede veediefstal. Nico Mienie het aan die einde van verlede maand 36 dragtige ooie ter waarde van R70 000 aan die hande van veediewe verloor.
Maandagnag, 27 Julie 2015, is 23 ooie en 23 lammers geslag en/of doodgemaak.
Die ooie is party net keelaf gesny en so gelaat, terwyl ander geslag is.
Die 23 lammers is almal net doodgemaak deurdat hulle in die oog met ‘n vreemde voorwerp gesteek is, en hulle is net so op die toneel gelaat. Slegs 8 van die 23 ooie se karkasse is nie op die toneel gevind nie.
Niekie Grobler, veiligheidskoördineerder in die distrik, sê hulle kan nie verstaan hoekom die ooie so verniel moes word en die lammers doodgemaak moes word as die verdagtes slegs agt ooie gevat het nie. Gister se voorval beteken vir Mienie ’n verlies van ten minste R57 500. Volgens Grobler word ’n toename in veediefstal in die omgewing beleef. Dirk Viljoen, Vrystaat Landbou (VL) se veiligheidsverteenwoordiger in die oos-Vrystaat, sê altesaam 35 skaap is oor die naweek by ’n landbouer in die Clarens distrik gesteel. Dit was ook die tweede keer in ’n paar maande wat dié landbouer ’n slagoffer van veediewe was.
Die VL en VKB Veiligheidslessenaar het met waardering kennis geneem dat die Polisie bereid was om hul lugvleuel beskikbaar te stel om die skape en verdagtes te soek, maar weens mistigheid kon die helicopter nie opstyg nie. Die mistigheid het die Polisie ook verhoed om na behore na die skape te kon soek in die bergagtige terrein, maar hulle was gister en is ook vandag weer op die toneel om na die verdagtes te soek.
Tommie Esterhuyse, voorsitter van VL se Wet en Orde Komitee, sê volgens die inligting aan die verskaf, neem veediefstalvoorvalle waar groot getalle vee gesteel word in die provinsie, toe.
“Die Polisie moet defenitief meer speurders beskikbaar stel om sake te ondersoek soos dinge nou aangaan en dit ook as ’n georganiseerde misdaad benader.”
’n Gebrek aan personeel asook voertuie by die Polisie bly steeds problematies.
Die emosie en woede waarmee landbouers op veediefstal en wreedheid op weerlose diere reageer word al hoe erger en het breekpunt bereik, veral omdat dit ontstaan vanuit ’n plek van liefde wat die landbouer vir sy diere het, sê Henk Vermeulen, hoof uitvoerende beampte van VL. Hy sê VL maak foto’s van die voorval beskikbaar en hoop dat die samelewing sal besef watter barbaarse maniere van doodmaak baie keer met veediefstal gepaard gaan. “Ons wil graag ook hê dat die samelewing die woede van landbouers wat op sulke tonele afkom sal verstaan, en dat hulle landbouers sal bystaan deur byvoorbeeld nie verskaffers van vleis waarvan die bron nie duidelik is nie, te ondersteun nie.”
“Alhoewel landbouers wetsgehoorsame burgers is kan die veiligheid van sulke kriminele, mits hul op heterdraad betrap word, nie verseker word nie,” aldus Vermeulen.
Sulke misdade het nie net ’n invloed op die dier asook diegene wat daarop afkom nie, maar dit beïnvloed op die ouend ook die landbouer en sy werkers se toekoms en voortbestaan. VL doen ook ’n beroep op die Polisie om aan die leemtes wat bestaan aandag te skenk en om toe te sien dat diegene wat vasgetrek word, swaar strawwe opgelê word.
Vir meer inligting, kontak Alani Janeke by 051 4444 609 of 083 301 9813. Vrystaat Landbou se Facebook-inskrywing het nog foto's.
VERSKAF deur die Vrystaat Landbou, VKB-veiligheidslessenaar.
Sekere foto's wat ontvang is, is nie op OFM-nuus se webblad gepubliseer nie, weens die grusame aard daarvan en die OFM-nuusmanifes se beleid oor inhoud. - Webred.