Golf
Formaat van Sonskynreeks verander─── MORGAN PIEK 13:51 Thu, 19 May 2016
Van aanstaande seisoen af gaan daar groot veranderinge aan die Sonskynreeks aangebring word met drastiese veranderinge wat die toer se formaat betref.
Die jaarlikse toerskool, wat al die afgelope paar jaar by die Bloemfontein Gholfklub gespeel word, sal nie meer in Desember of Januarie plaasvind nie, maar van volgende jaar af in Maart gespeel word.
Daar word bespiegel dat die rede agter die skuif is dat die professionele groentjies hul voete kan vind tydens die winter-toernooie, pleks van die mede-gesanksioneerde toernooie soos die Alfred Dunhill-kampioenskap, Nedbank-uitdaagtoernooi, Suid-Afrikaanse Ope, Joburg Ope en Tshwane Ope.
Die bestuurder van die Bloemfontein Gholfklub, Dewald Smit, wat ook al aan die groot toernooie deelgeneem het, sê aan OFM-sport die veranderinge is dalk nie ‘n slegte ding nie.
“Ek is nie 100% seker wat die rede van die Sonskynreeks se kant af is vir die besluit nie, maar as ek, wat nie self ‘n speler is nie, uit die spelers se oogpunt moet praat, dink ek dit sal beter wees om jou eerste jaar, veral as groentjie, eers die winter-toernooie te speel om jou voete te vind en dan na die mede-gesanksioneerde toernooie oor te gaan.
“Ek weet die Sonskynreeks moes maar al die jare hul skedule rondom die Europese Reeks en mede-gesanksioneerde toernooie reël.”
Die Nedbank-uitdaagtoernooi sal van vanjaar af deel van die Europese Reeks se jaareindreeks uitmaak met prysgeld van $7 miljoen. Dié gewilde toernooi by die ikoniese Gary Player Buiteklub in die Pilansberge sal vanjaar ook 'n maand vroeër gespeel word en nie meer in Desember soos al die vorige jare nie.
Morgan Piek/OFM-nuus
- Download the OFM app in the Apple or Android app store to read the latest news/sports stories.