On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Human Interest

Bloemfonteinse fotograaf ry om die Vrystaat vir Reach for a Dream

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 09:30 Fri, 20 May 2016

Bloemfonteinse fotograaf ry om die Vrystaat vir Reach for a Dream | News Article
Kobus Robbertze, reg vir sy groot avontuur!

Bloemfontein - ‘n Bloemfonteinse avonturier vertrek vanoggend op sy trapfiets om ‘n sirkelroete van sowat 1 200 km in minder as drie weke om die Vrystaat te voltooi.

Kobus Robbertze, ‘n plaaslike fotograaf, pak dié tog aan ten bate van Reach for a Dream, ‘n organisasie wat poog om siek kinders se drome waar te maak.

Robbertze, wat Reach for a Dream se amptelike fotograaf is, is só passievol oor kinders wat aan lewensgevaarlike siektes lei, dat hy besluit het om dié fietstog aan te pak.

Hy gaan tydens die toer by dorpe aandoen om geld vir Reach for a Dream in te samel. Robbertze gaan op pad ook by ‘n paar siek kinders aandoen en hul drome bewaarheid. 

Hy is avontuurlustig en omdat hy foto’s vir Reach for a Dream neem, weet hy wat die organisasie benodig om kinders breed te laat glimlag. Dit is vir hom deel van sy avontuur om kinders wat siek is te help, sê Robbertze.

Hy het slegs tydens die eerste drie dae en die laaste drie dae van sy fietstog voertuig-ondersteuning. Robbertze het twee jaar gelede sowat 1000 km per fiets afgelê ten bate van Kindersorg Bloemfontein en Childline Free State.

Robbertze vertrek vandag van Bloemfontein af op sy fietstog van 20 dae. Hy ry dan na Dealesville, Hertzogville en in ‘n noordelike rigting tot by Sasolburg.

Daarna gaan hy na Heilbron deur Oos-Vrystaatse dorpe soos Ficksburg en Clocolan, na Dewetsdorp en terug na Bloemfontein.

Hy sê dorpe in die Vrystaat is gelukkig nie duisende kilometers van mekaar geleë nie en hy kan daarom saans op dorpe slaap.

Reach for a Dream in die Vrystaat is verantwoordelik om afsprake vir geldinsameling op dorpe te organiseer. Hy gaan ook op ‘n paar dorpe siek kinders besoek. “Ek gaan amper soos Kersvader ‘n droom aflewer. Ek gaan net nie met ‘n slee daar aankom nie, maar met my fiets.”

Robbertze sê sy trapfiets is ‘n kombinasie van ‘n bergfiets en ‘n padfiets. Daar is sakke aan weerskante van die trapfiets vir sy bagasie.

- Download the OFM app in the Apple or Android app store to read the latest news/sports stories.


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.