On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Local News

VS-polisie vra gemeenskappe se samewerking om zama-zamas aan te keer

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 10:13 Thu, 14 Apr 2016

VS-polisie vra gemeenskappe se samewerking om zama-zamas aan te keer | News Article
OFM News

Welkom - Die polisie in die Vrystaat rig ‘n ernstige versoek aan gemeenskappe in die Goudveld om met inligting na vore te kom rakende die toenemende bedrywighede van onwettige mynwerkers in Welkom, Odendaalsrus en Virginia.


Dit kom nadat die lyke van vier zama-zamas, oftewel onwettige mynwerkers, vandeesweek ondergronds gevind is. Polisiewoordvoerder, Stephen Thakeng, sê drie lyke is Maandag in ‘n verlate mynskag van Harmony Gold gevind. Stukkies papier met hul name op is by hul lyke gevind. Nog ‘n lyk is Dinsdag in dieselfde verlate mynskag gevind. Al die lyke is by Harmony Gold se Eland-mynskag na die oppervlak gebring.

Thakeng sê ’n geregtelike nadoodse ondersoek sal die oorsaak van hul dood bepaal, maar daar word vermoed dat hulle weens giftige gasse dood is. Hy sê die gemeenskap moet betrokke raak sodat die polisie diegene wat onder meer kos aan die zama-zamas verskaf, ook kan aankeer. Hy bedank diegene wat in die Goudveld bly en reeds inligting aan die polisie verskaf het oor kospakkies aan onwettige mynwerkers, wat tot die inhegtenisneming van gemeenskapslede gelei het. In die proses wen die polisie sy stryd teen dié onwettige bedrywighede.

Thakeng sê sedert 14 Maart is meer as 530 onwettige myners in hegtenis geneem. Die verdagtes, wat burgers van onderskeidelik Lesotho, Mosambiek en Zimbabwe is, staan tereg op aanklagte van betreding, onwettige goudmynbedrywighede, pogings om onwettig mynbedrywighede op myneiendom­ uit te voer en die onwettige binnekoms van die land.

OFM-nuus het vroeër berig dat ‘n middeljarige man op 2 April by sy huis in Naudéville in hegtenis geneem is in verband met kospakkies ter waarde van R1 miljoen. Dit was na bewering vir onwettige mynwerkers in Welkom bestem. Die polisie het op kos en drank by Bongani Mkhize se huis beslag gelê nadat die polisie 'n wenk van die publiek ontvang het. Mkhize staan tereg op ‘n aanklag van sameswering om ‘n misdaad te pleeg.

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.