On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Local News

Weermag se nagskietvertoning gaan talle na hul asems laat snak

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 09:31 Wed, 18 May 2016

Weermag se nagskietvertoning gaan talle na hul asems laat snak | News Article
File photo

Bloemfontein - 'n Vuurkrag-demonstrasie en die tentoonstelling van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se vermoë begin later vanmiddag in Bloemfontein met 'n statiese uitstalling en 'n nagskietvertoning.


Johann Prinsloo van 1 Spesiale Diensbataljon (1SDB), wat vanjaar verantwoordelik is vir die aanbieding van hierdie demonstrasies, sê al die weermag se afdelings neem oor twee dae hieraan deel. Volgens hom het die demonstrasies ten doel om onder meer die weermag se vermoë en sukses aan die publiek te toon. Prinsloo beloof vanaand se skietvertoning gaan talle na hul asems laat snak.

Mense moet hul eie stoele en gehoorbeskerming saamneem. Toegang is gratis. Prinsloo sê Rooikatte, Ratels (20mm en 90mm) asook 'n Rooivalk en Olifant-tenks kan vanaand in aksie gesien word. Artillerie gaan ook demonstrasies met mortiere lewer.

Die nagskietvertoning begin omstreeks 19:00 by die Genl. De Wet-opleidingsentrum, oftewel De Brug.

Môre se verrigtinge is slegs vir weermagdoeleindes en is nie oop vir die publiek nie. Slegs hooggeplaastes, uitgenooide gaste en die media word toegelaat. Die hoof van die weermag, Lindile Yam, gaan die verrigtinge lei.

Belangstellendes kan die statiese uitstalling, met weermagvoertuie, uitrusting en ammunisie, al vanmiddag vanaf 16:00 besoek. Prinsloo sê padaanwysers is op die N8 aangebring.

OFM-nuus

- Download the OFM app in the Apple or Android app store to read the latest news/sports stories.

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.