On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Local News

VS-polisie luister na Warden-boere

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 08:47 Tue, 24 May 2016

VS-polisie luister na Warden-boere | News Article
OFM-nuus

Warden - Volgehoue pogings deur Vrystaat Landbou (VL) se Warden-distriksvereniging om probleme rondom swak dienslewering deur die plaaslike polisie op te los, het vrugte afgewerp.


Lede van dié landbouvereniging en hoë polisieamptenare het gister vergader om kwessies soos ‘n tekort aan polisiebeamptes en hulpbronne aan te spreek. Voorsitter, Hendri Jansen van Rensburg, sê boere in die distrik is al vir ‘n geruime tyd bekommerd oor die polisie se onvermoë om landelike beveiliging toe te pas.

Ná vele probeerslae om hul besware met polisiehoofde te deel, het die adjunk- provinsialepolisiekommissaris, Moeketsi Sempe, met boere vergader. Jansen van Rensburg sê die polisiekantoor op Warden lewer swak diens aan die gemeenskap.

Daar is ‘n tekort aan mannekrag. Volgens hom is daar té min aktiewe lede aan diens om die gebied voldoende te patrolleer. Landelike beveiliging ly in die proses daaronder. Hy meen die getal polisiebeamptes blyk op papier voldoende te wees, maar in werklikheid gebeur niks verder nie. Daarmee saam is daar ook klagtes dat daar nie genoeg motors beskikbaar is vir polisiebeamptes nie. Jansen van Rensburg verwys na die polisie se witlig-bloulig-veiligheidsinisiatief, wat deur boere in die distrik ondersteun word, terwyl die polisie onbetrokke is. Die polisie moet meer sigbaar wees.

Hy sê die landbouvereniging is tevrede met die uitkoms van die vergadering. Sempe was goed voorbereid en kon aanvaarbare antwoorde verskaf. Sempe het onderneem om lakshede deur polisiebeamptes aan te spreek en motors wat aan die Warden-polisiekantoor behoort, gaan vervang word. Meer motors gaan ook beskikbaar gestel word. Probleme rondom klagstate wat wegraak, gaan ook aandag geniet.

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.